Buurtwag volhard in brandbestryding op Eloff

Met behulp van ’n opgeleide brandbeheerspan speel die buurtwag ’n baie belangrike rol in die bekamping van veldbrande wat onder ander omstandighede moontlik katastrofiese gevolge kon hê.

Die Hoëveld is die tyd van die jaar sinoniem met veldbrande en die risiko’s wat daarmee saamgaan.

Lede van die AfriForum Eloff Buurtwag volhard op ’n daaglikse basis in die stryd teen dié brande.

“’n Groot rede vir die erge brande vanjaar, was inwoners wat nie hul erwe en omgewing in stand hou nie. Lang gras word nie gesny nie en wanneer ’n brand dan ontstaan, word dit die verantwoordelikheid van die buurtwag om die brand te blus om eiendom te beveilig,” het Heila Coetzee van die Eloff Buurtwag gesê.

Die AfriForum Eloff Buurtwag beskik oor drie brandkarre wat gereeld teen veldbrande en die beveiliging van eiendomme ingespan word.


LEES OOK: Woman arrested on Bethal Prison grounds with substances


Met behulp van ’n opgeleide brandbeheerspan speel die buurtwag ’n baie belangrike rol in die bekamping van veldbrande wat onder ander omstandighede moontlik katastrofiese gevolge kon hê.

“Ek moet vir Jaco Potgieter van Techno Power uitsonder. Hy het al ons brandbestrydingstoerusting en -karre vir ons herstel wat ons in staat stel om hierdie belangrike diens aan ons gemeenskap op Eloff en omliggende gebiede te kan lewer.”

“Ons bedank ook vir Ansie van Tonder en al die vrywilligers van ons brandbestrydingspan onder wie se bekwame hande ons hierdie seisoen vele brande suksesvol geblus het.

“Die brandseisoen is egter nog nie op ’n einde nie.


LEES OOK: Govan Mbeki Municipality consults with community on IDP


“Ons wag vir daardie eerste somerreën en met stormsterk-winde, maan ons inwoners om nie enige vure te maak of tuinvullis aan die brand te steek nie.

“Sny asseblief ook alle lang gras op jou erf of kleinhoewe en red so ’n woning of selfs ’n lewe,” het Coetzee verder gesê.

Coetzee het gevra dat alle belangstellendes wat wil bydra tot die bekamping van misdaad en die bestryding van brande in die Eloff-gebied, haar op 078 065 0105 moet kontak.

“Ons het elke inwoner se bystand nodig. Kom wees deel van die oplossing,” het Coetzee afgesluit.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version