Local newsNews

Bekende veearts en geliefde lid van die gemeenskap wreed op sy plaas buite Delmas vermoor

Coleman se lewelose, erg vernielde en vasgebinde liggaam was in ’n groot plas bloed reg langs sy geweerkluis in die sitkamer gevind.

Dr. Jesse Coleman (73) se liggaam is Dinsdagoggend, 27 September, in ’n plas bloed langs sy geweerkluis in die sitkamer op die plaas Klipspruit tussen Delmas en Bronkhorstspruit gevind.

Werkers op dié plaas in die Waaikraal-omgewing het op die vermoorde veearts se lyk afgekom.

Toe Coleman dié oggend nie soos gewoonlik uit sy huis gekom het om opdragte vir die dag se take uit te deel nie, het die werkers gaan ondersoek instel.

’n Plaaswerker het Coleman se lewelose liggaam in die plaashuis gewaar en onmiddellik Coleman se jongste dogter en skoonseun, Nick en Allison Sweetman, gekontak. Allison het op haar beurt ’n noodroep op ’n plaaslike Whatsapp-noodgroep geplaas.

Twee lede van die AfriForum Argent Plaaswag het na die toneel gehaas en Coleman se vasgebinde liggaam in ’n groot plas bloed in die sitkamer gevind.

Hulle het die Delmas polisie gekontak. Paramedici het Coleman later dood verklaar. Volgens die familie op die toneel, is Coleman erg gemartel voor sy dood. Hy het verskeie snywonde aan sy bene en knieë en ’n groot wond aan sy kop.


LEES OOK: Gunmen open fire on ward councillor’s house in eMbalenhle


Die moordenaars het glo by die huis se agterdeur ingebreek. Dit blyk egter asof Coleman nie dood is sonder om hom teen die aanvallers te probeer verset nie.

Twee koeëlgate uit sy haelgeweer is duidelik sigbaar in die kombuisdeur en in die eetkamer. Die vermoede bestaan glo dat Coleman iets gehoor het en reageer het deur ’n skoot in die rigting van die agterdeur te vuur, maar toe in die eetkamer deur die aanvallers oorrompel is.

In die eetkamer is daar ook ’n skoot afgevuur en die eerste tekens van ’n groot struweling is hier duidelik sigbaar.
Op die vloer was stukke van ’n polshorlosie.

Dié horlosie het nie glo nie aan Coleman behoort nie en is vermoedelik een van die aanvallers sin. Met Streeknuus se aankoms op die toneel, kon die bloedspoor na die plek waar Coleman gevind is gevolg word.

Die motief vir die moord blyk egter ’n raaisel te wees, want slegs Coleman se selfoon is weg. Die moordenaars het duidelik na iets gesoek, want die huis was omgekeer, laaie en kaste se inhoud het oor die vloere gestrooi gelê.

Op die toneel het ook ’n ketel gelê. Volgens Coleman se familie, hoort die ketel nie in die sitkamer nie.

“Sou hulle hom met kookwater wou martel?,” het Nick gevra.

Coleman was ’n praktiserende veearts wat die grootste gedeelte van sy lewe sy praktyk in Benoni bedryf het. Hy het op die plaas opgegroei en ná sy ouers se dood, het hy ook die boerdery op die plaas voorgesit.

“My skoonpa was ten spyte van sy ouderdom ’n gesonde, sterk en aktiewe man,” het Nick gesê.

“Dit was vir ons ’n groot bekommernis dat hy alleen op die plaas gewoon het. Ek en Allison sou binne ’n bestek van drie maande by hom op die plaas kom woon het. Dit is nou te laat, ons grootste vrees is bewaarheid.”

Die gemeenskap van Delmas het dit eens dat Coleman ’n groot figuur in die Delmas-omgewing was.

“Hoewel hy sy lewe lank in Benoni gewerk het, was hy baie betrokke by die plaaslike boeregemeenskap,” het een persoon Streeknuus meegedeel.

Die tyd van Coleman se dood kan nie met sekerheid bepaal word nie. Daar kan ook nie bevestig word hoeveel aanvallers betrokke was nie.

Intussen het die provinsiale kommissaris van polisie, luitenant-generaal Semakaleng Daphney Manamela Coleman se grusame dood heftig veroordeel.


LEES OOK: Accused in murder case of Standerton man remain in custody


Enige persoon wat moontlik inligting oor die moord het, word versoek om die ondersoekbeampte, adjudant-offisier Jacques Smook, by 082 527 2974 te kontak.

Alternatiewelik kan die Stop Misdaad nommer by 08600 10111 geskakel word. Teen druktyd is nog geen verdagtes aangekeer nie.

Die Delmas se AfriForum-tak het intussen gereël dat ’n professionele span op Woensdag, 28 September die toneel sou opruim om die familie dié gru-taak te spaar.

Coleman se moord volg slegs vyf dae ná nog die moord van ’n ander Mpumalanga-boer. Gideon Swart (52) van Warteval-Boven se liggaam is deur sy broer buite die plaashuis ontdek.

Swart is ook vele steekwonde op onder andere sy maag, rug en nek toegedien. Volgens betroubare inligting was een van die drie steekwonde aan die agterkant van sy nek die oorsaak van sy dood.

Llewellyn Hemmens, AfriForum se streekshoof vir veiligheid in die Noordstreek het aan Streeknuus bevestig dat daar sedert Vrydag, 23 September reeds ses plaasaanvalle plaasgevind het, waarvan drie moorde is.

“Ons wil ons boere maan om uiters waaksaam te wees. Moenie vir enige rede uit jou huis gelok word nie, nie vir elektrisiteit wat skielik afgaan of as daar iets by jou diere sou foutgaan nie.

“Skakel in by jou plaaslike veiligheidstrukture en maak gebruik van radiokontak,” het Hemmens gesê.

“Wees paraat, wees voorbereid en oefen gebeurlikheidsplanne in.”


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button