Nita inspireer Bethal VLU-vroue met haar praatjie

Belangstellendes is welkom om volgende vergadeirng in Oktober by te woon.

BETHAL – Nita Jansen van Rensburg was op Dinsdag, 6 September die gasspreker by Bethal VLU-tak se maandvergadering en het vroue vertel van haar staptog in Nepal.

Sy en twee vriendinne het die staptog na Berg Everest aangedurf met die doel om tot by dié berg se basiskamp te klim.

Die drie vriendinne het in Maart vanjaar na Kathmandu, die hoofstad van Nepal gevlieg en by die eerste dorpie op die berg, Lukla, aangekom.

Jansen van Rensburg het vertel dat Lukla 2 800m bo seespieël lê en die kortste aanloopbaan wêreldwyd het, net 400m.

“Dit is dus baie gevaarlik as dit mistig is, want dan kan die vliegtuie nie opstyf of land nie,” het Jansen van Rensburg vertel.

Die staptog het 14 dae geduur en daar is net 65% suurstof op die berg wat dit ’n hoë risiko-staproete maak.
Jansen van Rensburg het vertel hoe hulle ’n hele paar uitdagings te bowe moes kom.

“Ons kon vir 14 dae glad nie was nie, want water is skaars.

“Hoe hoër ’n mens met die berg opgaan, hoe minder is die suurstof, so ’n mens kan nie slaap nie.

“Die bagasie wat jy saamdra, mag nie meer as 10kg weeg nie.”

Die drie vriendinne het ’n gids saamgeneem wat die berg al 16 jaar ken, asook twee portiere om hulle sakke te dra.


LEES OOK: Edu Detto Onderrigsentrum op Secunda bied gholfdag aan


Jansen van Rensburg se slaapsak het deel van die 10kg gevorm.

Hoewel haar slaapsak geskik is vir temperature van minder as 10° Celcius, was dit nie goed genoeg om Jansen van Rensburg in die bittere koue warm te hou nie.

Sy het R300 vir een liter kookwater betaal om in haar warmbottel te gooi.

“Die natuurskoon was ’n belewenis, die riviere is turkoois van kleur.

“Ons het oor vyf wiegende hangbrûe gestap, waarvan die hoogste een 90 verdiepings hoog is.

“Die ‘Sharpas’ woon op die berg en hulle het nie werk nie, maar is bestaansboere wat aartappels en spinasie plant.

“Die mans kap pragtige graniet en bou hulle huise daarmee,” het Jansen van Rensburg vertel.

Op die staptog het hulle baie stysel geëet en was vir drie weke vegetariërs.

“Ons moes, op 4 000m bo seespieël, ’n pilletjie drink om ons longe oop te hou. Op dié hoogte is daar ook geen plantegroei nie.

“Dit was ’n fisieke uitdagende roete, jy haal moeilik asem en jy moet vier liter water daagliks drink om nie te ontwater nie. Die water help ook om hoofpyn te voorkom.”

Volgens Jansen van Rensburg, was beserings ook aan die orde van die dag omdat hulle agt tot 10 uur daagliks gestap het, waarvan die kortste afstand vyf ure was en die langste 10 ure en 20 minute.

“Ons het geval omdat die sneeu begin smelt het en ons moes baie versigtig loop en kyk waar ons trap.


LEES OOK: Vandals hit days after eMbalenhle’s sewage plant is back in working order 


“Hoe stadiger jy beweeg, hoe beter is jou kans om nie hoogtesiekte op te doen nie.”

Die lesse wat Jansen van Rensburg met haar saamgeneem het ná die staptog, is dat ’n mens aanpasbaar moet wees, glo dat jy ’n oorwinnaar is, sit jou kroon op en stap en dat jy moet glo jy is genoeg om jou Everest te oorwin.

“Jy moet jou gemaksone verlaat as jy iets wil bereik en enige uitdaging in die lewe, moet jy tree vir tree aanpak,” het Jansen van Rensburg afgesluit.

Die Bethal VLU-tak se volgende vergadering is op Dinsdag, 18 Oktober in die N.G. Kerk Bethal-Oosgemeente se kerksaal en belangstellendes is welkom om dié vergadering by te woon.

Vir meer inligting, skakel Lynette Posthumus by 072 203 6230.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version