Delmas-vrou ontvang nou broodnodige dialise tuis

Cecillia was weer in die intensiewe eenheid van die hospitaal opgeneem en was nou boonop aan ’n asemhalingstoestel gekoppel.

Die jong vrou van Delmas wat onlangs as ’n moontlike kandidaat vir verskeie organe geïdentifiseer is, kry nou dialise op eie bodem op Delmas.

Soos berig in Streeknuus (29 April), benodig Cecillia Biermann (23) in werklikheid drie organe om haar lewensgehalte te verbeter.

Cecillia is reeds as baba as diabeet gediagnoseer en leef sedertdien met die simptome van dié siekte.

Die binnekant van hospitale is deel van haar en haar ouers, Desmond en Helena Biermann, se daaglikse bestaan.

Sedert Streeknuus se vorige berig oor Cecillia se welstand, het haar gesondheid ernstig agteruitgegaan en is sy in die hospitaal opgeneem. Sy was meestal in ’n medies geïnduseerde koma.

Cecillia moes dringend dialise ondergaan, omdat haar nierfunksie baie laag is.

Vóór haar eerste dialise, moes ’n fistula eers as verbinding tussen ’n slagaar en ’n aar in haar linkerarm geplant word.

Dié operasie is in Junie uitgevoer. Dit het aanvanklik goed gegaan, maar daar was egter gou tekens dat die arm nie gesond word nie.

In Julie is Cecillia weer in die hospitaal opgeneem.

“Die dokter het beweer Cecillia het voedselvergiftiging opgedoen, vandaar die naarheid en algehele tekens van infeksie,” het Helena gesê.

Cecillia is op Saterdag, 9 Julie weer in die hospitaal opgeneem, aanvanklik in ’n gewone saal, maar haar toestand het skielik verswak.

“Haar are het begin platval en haar asemhaling was baie vlak.”

Met die arm geswel en onbruikbaar vir dialise, is daar tydens ’n teaterprosedure ’n port aangebring waardeur sy dialise kon ontvang.

Volgens Helena het Cecillia die hele daaropvolgende dag dialise ontvang.

“Sy het op daardie stadium slegs 9% nierfunksie gehad.”

Cecillia is op Dinsdag, 12 Julie, weer in die teater gestoot, dié keer weens bloedklontvorming in die arm waar die fistula ingeplant is.

Sy was steeds siek met min verbetering in haar toestand. ’n Kritieke Cecillia is op 22 Julie om 19:00 weer die teater binnegestoot.

“Hulle het ses en ’n half uur later, omstreeks 23:30, vir Cecillia by die teater uitgestoot. Ek en haar pa was byna histeries van bekommernis.

“Die dokter se woorde, ‘ek weet nie of sy dit gaan maak nie’, sal ek nooit vergeet nie,” het Helena vertel.

Cecillia is weer in die waakeenheid van die hospitaal opgeneem en is boonop aan ’n asemhalingstoestel gekoppel.

Na nog vele kleiner operasies waarin die fistula uiteindelik verwyder is, nog bloedklonte uit die arm verwyder is en ’n veloorplanting gedoen is, kon Cecillia uiteindelik as ’n wonderwerk weer op Dinsdag, 2 Augustus huiswaarts keer.

Sy het intussen ook ’n nuwe port ontvang waardeur haar dialise toegedien word. Die ryery elke Maandag en Vrydag na die hospitaal, het egter vir haar ouers onuithoudbaar geword.

Slegs ’n klipgooi van die Biermanns se huis op Delmas, is die Pulsmed Dialise-sentrum. Ná ’n gewik en geweeg, het die Biermanns klaring vanaf hulle mediese fonds gekry. Cecillia kan nou dialise op eie bodem ontvang.

Met Streeknuus se besoek aan die sentrum op Vrydag, 16 September het ’n sigbare bleek en moeë, maar tevrede Cecillia in die rustigheid van die Pulsmed Sentrum haar dialise ontvang.

“Die diens hier is uitstekend, die kos lekker en die personeel is professioneel en vriendelik,” het Cecillia gesê.

Vir Cecillia en haar ouers lê daar nou die wag en die lang prosedure voor tot Cecillia ten minste ’n nier, een van die drie lewensgewende organe wat sy benodig, kan ontvang.

Vir die Biermann-gesin is die nuus dat hul jongste seun, Grewar, dalk ook eersdaags dialise moet kry ’n groot skok, maar steeds staan hierdie hegte gesin saam en bid hul daagliks vir uitkoms vir hul twee diabetiese kinders.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version