News

Paniekerige mense skep water in Bronkhorstspruit se strate

Die groep het paniek gesaai by munisipale geboue en reeds vanaf Maandag, 22 Augustus was munisipale amptenare met wapens gedreig en geïntimideer sou hulle dit waag om na hul werk terug te keer.

Die inwoners van Bronkhorstspruit moes vir dae aaneen sonder water klaarkom.

Dit het gevolg nadat ’n groep oproermakers van die Regional Mining Committee (RMC) glo munisipale amptenare gedreig het.

Hulle was glo ontevrede oor geskille rondom die gebruik van munisipale eiendom vir private vergaderings.

Die groep het na bewering paniek gesaai by munisipale geboue en reeds vanaf Maandag, 22 Augustus is munisipale amptenare met wapens gedreig en geïntimideer sou hulle dit waag om na hul werk terug te keer.

’n Betroubare bron het Streeknuus meegedeel hy was by ’n gesprek betrokke waar ’n senior amptenaar gedreig is dat, indien hy dit sou waag om die munisipale gebou binne te gaan, hulle hom in sy motor sou brand. Dié amptenaar is glo verder gesê dat hulle weet waar hy en sy gesin woon.

Drinkwater stroom soos riviere in die strate van Bronkhorstspruit.

Intussen het vier hoofwatertoevoerlyne gebars en het drinkwater soos riviere in die dorp se strate gevloei.

Die grootste van dié probleme het in Bothastraat op die dorp ontstaan.

Een van die waterpompe by die suiweringswerke het boonop die gees gegee en het veroorsaak dat waterdruk baie laag was.

Teen Woensdag, 7 September was Bronkhorstspruit heeltemal sonder water.

Skade wat deur oproerige lede van die Regional Mining Committee by die munispale kantore op Bronkhorstspruit aangerig is.

Emosionele tonele waar inwoners, insluitend kinders en seniorburgers, emmertjies en houers gebruik het om water te skep, het sosiale media oorstroom.

Weldoeners uit die gemeenskap het hul boorgate vir inwoners beskikbaar gestel.

AfriForum het ook van die dorp se waterpenarie te hore gekom en die Bronkhorstspruit-tak het ’n watertenker met 10 000 liter water vir huishoudelike gebruik oorkant Hoërskool Erasmus beskikbaar gestel.

’n Groep lede uit die gemeenskap het besef dringende ingryping is nodig en het vir Donderdag, 8 September ’n vergadering geroep waartydens die water- en diensleweringsprobleme bespreek sou word.

Die chaos wat geheers het by die munisipale gebou op Bronkhorstspruit is hier duidelik te sien.

’n Uitnodiging is aan Peter Sutton, raadslid vir Tshwane Metro se Wyk 7, waaronder Bronkhorstspruit en omliggende gemeenskappe soos Rethabiseng, Ekandustria en Ekangala sorteer, gestuur.

Sutton het dit van die hand gewys en ’n virtuele vergadering van sy eie rondom die diensleweringonderbrekings in Bronkhorstspruit op dieselfde dag om 18:00 met die inwoners van Bronkhorstspruit gehou.

Dié vergadering is gehou etlike ure ná munisipale amptenare hul werk hervat het.

Sommige inwoners moes toe reeds vir so lank as twee weke met min of geen water klaargekom het.

Streeknuus het Sutton om kommentaar genader, maar het geen terugvoer ontvang nie.

“Hierdie groep van RMC het ons amptenare elke dag gewelddadig uit die kantore gegooi,” het Cecillia Knox, oud-raadslid van die voormalige Kungwini Munisipaliteit, op Vrydag, 9 September gesê.

“Hulle kon dus nie hulle werk verrig nie. Die menslike hulpbronne van Tshwane het Bronkhorstspruit besoek, daar is onderhandel en besluite is geneem. Die sekuriteit sou onder andere opgeskerp word en RMC sou verhoed word om amptenare uit hulle kantore te gooi, te dreig en met vuurwapens aan te rand,” het Knox gesê.

Herstelwerk het toe eers voortgegaan en die watertoevoer kon geleidelik herstel word.

Inwoners van Bronkhorstspruit het volgens inligting, vanaf 9 September weer water in hul krane gehad, maar nog was dit nie die einde nie.

Noodsaaklike herstelwerk word aan een van die vier gebarste hoofwatertoevoerlyne op Bronkhorstspruit gedoen.

Teen druktyd het Streeknuus bevestig dat die inwoners van Ekangala, Ekandustria en Rethabiseng steeds nie water gehad het nie.

Dit is glo omdat die ’n nuwe tweede rouwaterpomp wat by die suiweringswerke geïnstalleer is, gebreek het.

Die een werkende pomp kan nie genoeg water pomp nie en die reservoirvlakke is te laag om aan dié gebiede ook water te voorsien.

“Hierdie inwoners van Bronkhorstspruit leef reeds vir die afgelope vyf weke sonder of met bitter min water. Dit is ’n skending van hul grondwetlike reg,” het Knox afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button