Pirografie vorm nou deel van VLU-vroue se vaardighede

Delmas VLU-tak groepeer onder die Carpe Diem-streek en die vroue was geëerd om die streeksvoorsitter, Debbie du Plessis ook as deel van die spesiale gaste te kon verwelkom.

Die temperature in Delmas het plek-plek tot onder vriespunt gedaal, maar dit het nie die vroue van Delmas se VLU-tak weerhou van hul pirografie-werksklas nie.

Die vlytige vroue het op Dinsdag, 21 Junie in die saal van die Hervormde Kerk in Delmas bymekaar gekom vir hul maandelikse vergadering en gebruiklike aanleer van ’n nuwe vaardigheid.

“Ten spyte van die koue, het ons vroue weer bymekaar gekom in ’n gees van verwagting en die blye weersiens van hegte vriendinne,” het Magriet Swart, skakelbeampte van die Delmas-VLU gesê.

Die vergadering is deur die voorsitter, Marié Terblanché geopen en lede en spesiale gaste is hartlik verwelkom.

Onder die spesiale gaste wat kom inloer het, was Elsie Bredenkamp. Elsie doen die beoordeling vir die miniskou-artikels.

Doret Maritz was ook onder die genooide gaste om die oggend se verrigtinge by te woon.

Voor is Jané Oosterhuis, Elsie Bredenkamp, Debbie du Plessis en Marié Terblanché.
Agter is Magriet Swart, Ansie van Zyl, Belinda Duvenhage, Lynette Snyman, Eileen Putter en Doret Maritz. Foto; Verskaf

“Ons hoop werklik dat Doret die oggend so geniet het dat sy sal terugkeer as volwaardige lid van Delmas se VLU-tak.”

Delmas VLU-tak groepeer onder die Carpe Diem-streek en die vroue was geëerd om die streeksvoorsitter, Debbie du Plessis ook as deel van die spesiale gaste te kon verwelkom.

Met pirografie of meer algemeen bekend as brandskilderwerk as die tema vir die oggend se werksklas, het Lynette Snyman die leiding geneem.

Snyman is ’n boervrou van die omgewing.

“Lynette is ’n boervrou in murg en been en haar kreatiwiteit ken geen perke nie,” het Swart laat hoor.

Volgens Swart, is dit juis in pirografie waarin Snyman haarself uitleef.

Snyman se man, Johan, het glo 20 jaar gelede reeds vir haar ’n soldeerbout gekoop en daarmee werk sy steeds.

“Sy tower die mooiste kunswerke op met vel en hout as haar skilderdoek.”

Marié Terblanché (voorsitter) en Debbie du Plessis (streekvoorsitter) geniet die pirografie. Foto: Verskaf

Tydens die klasse het Snyman met basiese riglyne en praktiese raad vir elke beginner touwys gemaak.

Sou die soldeerbout vinnig en liggies oor die doek (canvas) beweeg word, het dit ’n ligte brandkleur tot gevolg. Hoe stadiger dit beweeg word, des te donkerder is die eindresultaat.

Volgens Snyman moet die tyd net goed dopgehou word, want wanneer ’n persoon in die kuns verdiep raak, vlieg die ure en as jy jou weer kon kry, is dit diep in die nagure.

Deur middel van Snyman se praktiese raad kon elkeen daarin slaag om met groot bevrediging ’n pirografie-kunswerk huis toe te neem.

Swart het vertel dat daar verder ook ’n projek geloods is waartydens ’n nuttige artikel uit ’n 2l plastiese bottel gemaak moes word.

Swart self het ’n tuintjie in die kleine gemaak, kompleet met blommetjies en mos.

Ansie van Zyl het op haar beurt ’n juwele houer wat by ’n koningin pas, gemaak.

Versier met diamanté, ’n satyn kussinkie waarop daar boonop ’n handgemaakte halssnoer pryk en twee gedeeltes wat toerits, is dit ’n pronkstuk.

“Weer eens het ons ’n vergadering gehad wat vriendskappe bind met die uitdaging van selfontwikkeling deur artikels in te skryf op kompetisievlak, om saam te lag om ’n koppie tee en ’n nuwe vaardigheid te leer,” het Swart afgesluit.

Ansie van Zyl spog met haar juwele houer, vervaardig uit ’n 2l-bottel van plastiek. Foto: Verskaf

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version