Local newsNewsStreeknuus

Solidariteit Helpende Hand open Ons Winkel-tak op Delmas

Die wins van die verkope stel Helpende Hand in staat om ’n volhoubare verandering in die gemeenskap te bewerkstellig deur middel van verskeie projekte wat gemeenskappe bevorder en ophef.

Delmassers het met groot afwagting uitgesien na die opening van Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel op die dorp.

Verskeie hooggeplaastes vanuit die Solidariteit-kringe het die opening bygewoon en tydens ’n gesellige geleentheid is die lint op Vrydag, 1 Julie om 09:00 geknip.

Dit was tyd vir inkopies in ’n pragtige en goed toegeruste winkel. Ons Winkel is geleë in Derdestraat 19, Delmas.

Vir die Delmas-winkel se eienaar, Johan Fourie, was die afwagting groot.

Johan en Merice Fourie pop die vonkelwyn terwyl klein Ruben Fourie die lint knip tydens die opening van Ons Winkel op Delmas.

“Ons is baie dankbaar vir die skenkings wat ons van die publiek ontvang het. Ook die belangstelling en ondersteuning op ons heel eerste dag was eie aan ons mense van Delmas. Ek waardeer elkeen se ondersteuning opreg,” het Fourie laat hoor.

Fourie verder gesê enige huisraad, kombuisware, elektrieseware, meubels, gereedskap, klere of enige iets wat in die pad staan, aan Ons Winkel geskenk kan word.

“Jou in-die-pad-goed is dalk net iemand anders se droom.”

Fourie het ook genoem dat hulle selfs bereid is om goedere by die publiek se wonings te gaan afhaal as vervoer ’n probleem sou wees.

Fourie kan by 082 062 3310 gekontak word.

Voor is Amilie Coetzee en Ruben Fourie. In die middel is Annemarie van Heerden (streekorganiseerder vir Mpumalanga en KwaZulu-Natal Noordstreek), Melissa Nel (assistent-streekorganiseerder vir Mpumalanga en KwaZulu-Natal Noordstreek), Leandri du Plooy (voorsitter: Solidariteit Helpende Hand Delmas-tak) en Johan Fourie (eienaar: Ons Winkel Delmas). Agter is Lizanne Coetzee (adjunk-uitvoerende hoof: Finansies, Helpende Hand), Chantel Bissett (hoof: Operasioneel, Ons Winkel) en Merice Fourie.

Ons Winkel is deel van Solidariteit Helpende Hand se landswye liefdadigheidswinkels, waar die publiek hul tweedehandse goedere kan skenk en boonop self een of twee winskopies kan raakloop.

Die wins van die verkope stel Helpende Hand in staat om ’n volhoubare verandering in die gemeenskap te bewerkstellig deur middel van verskeie projekte wat gemeenskappe bevorder en ophef.

Die Ons Winkel skep boonop werksgeleenthede en dra by tot studiefondse om studente wat wil gaan studeer, maar dit nie kan bekostig nie, se studiedrome te verwesenlik.

Die publiek word genooi om betrokke te raak by projekte wat die Solidariteit Helpende Hand se Delmas-tak, onder leiding van Leandri du Plooy binnekort gaan uitrol.

Vir meer inligting kan Leandri du Plooy by 076 887 7793, Annemarié van Heerden (streekorganiseerder vir Mpumalanga en KwaZulu-Natal Noordstreek), by 082 829 2546 of Melissa Nel (assistent-streekorganiseerder vir Mpumalanga en KwaZulu-Natal Noordstreek), by 072 660 7345 geskakel word.

“Skenk vir Hoop, koop vir ’n toekoms, want saam maak ons ’n verskil,” het Nel laat hoor.

Hier staan vriendelike personeel ’n kliënt by tydens haar inkopies.

Related Articles

Back to top button