Dubbele tragedie tref Standerton-familie

Selmari Rautenbach het hulp in ’n stempos op ’n groep ontbied en boere het hul na die plaas gehaas.

’n Dubbele tragedie wat skokgolwe deur die boerderygemeenskap gestuur het, het op Vrydag 1 Julie omstreeks 18:00 op die plaas, Groenvlei afgespeel.

Die 12-jarige Kerneels Rautenbach het in ’n mielieput beland en sy tante, Jackie Rautenbach se reddingspoging het tot haar eie dood gelei.

Volgens inligting, het die plaas vier sinksilo’s en die put is langsaan.

Selmari Rautenbach het hulp in ’n stempos op ’n groep ontbied en boere het hul na die plaas gehaas.

Dit was egter tevergeefs.

Kerneels was ’n gr. 7-leerder aan Laerskool Standerton en die skool se Facebook-bladsy het hom as ’n spesiale leerder beskryf wat harte aangeraak het.

Sy moeder Selmari, het ook van Facebook gebruik gemaak te midde van die ontsaglike hartseer, om haar seun se afsterwe te begin verwerk.

Ongeloof oor die die voorval is verwoord: “…Dit kannie wees nie”.

Die feit dat sy hom nie kon groet nie, is duidelik gestel.

Neels en Selmari het nog twee jonger kinders, terwyl Jackie Rautenbach oorleef word deur haar eggenoot, Mannie en dogters Erika en Marianne.

Jackie is as ’n kunstenaar met ’n borrelende persoonlikheid beskryf.

Boodskappe van medelye het ingestroom sedert die naweek en die gesinne en die hele familie was duidelik nog in skok op Maandag 4 Julie.

Die provinsiale kommissaris van die polisie, luit-gen Semakaleng Daphney Manamela, het ’n mediaverklaring uitgereik, waarin aangedui is dat Standerton Polisie ’n dossier oopgemaak en ’n geregtelike doodsondersoek gelas het.

Volgens die polisieverslag, het Jackie Rautenbach se man, wat redelik naby was, gille vanuit die put gehoor, maar kon ook nie daarin slaag om die twee vasgekeerdes te help nie.

Paramedici het hulle op die toneel dood verklaar.

Die kommissaris het gesê dat geen misdaad vermoed word nie en haar hartseer oor die dood uitgespreek.

Die Rautenbach-familie het almal wat hul bes probeer het om ’n onmoontlike situasie te beredder, bedank asook almal wat simpatie betuig het.

Agri SA het hul skok uitgespreek en die boederygemenskap gemaan om hul veiligheid voorop te stel.

Exit mobile version