Lin Naude sterf in ’n raaiselagtige voorval by haar huis op Cullinan

Daar waar sy gegaan het, het sy ’n merkie gelos.

Lin Naude (68) is Maandagoggend, 20 Junie om 8:00 dood in haar huis aangetref.

Die oorsaak van haar dood en raaiselagtige gebeure daar rondom is nog nie bepaal nie.

Die polisie is egter nog besig met die ondersoek en kan nog nie bevestig wat tot Naude se dood gelei het nie.

Naude is beskryf as ’n merkwaardige mens, suster, ma, tannie en buurvrou, en het voluit vir haar familie en medemens geleef.

“Ek het tannie Lin se kreatiwitweit bewonder en waardeer. Sy kon mooi skryf, borduur, klawerbord speel en het my passie vir die karakter Pinocchio gedeel,” het raadslid JB Bekker vertel.

Naude het mannetjies uit hout en selfs sement-ornamente gemaak wat vandag nog haar tuin soos ’n sprokiesland laat vertoon.

“Ons sal haar onthou as ’n inwoner wat altyd hulp verleen het waar sy kon – al is dit ’n potplantjie hier, bietjie groente uit haar tuin, of klere uit haar kas,” het inwoners van Cullinan laat hoor.

“Vir haar hande was geen werk te veel nie. Altyd doenig met ietsie en altyd raad as jy dit nodig het.”

“Daar waar sy gegaan het, het sy ’n merkie gelos.

Volgens die mense wat haar geken het, het Naude haar hart op haar skouer gedra en almal kan getuig oor die goedheid wat daarmee gepaard gegaan het.

Deur die jare het Naude diep spore in die gemeenskap getrap en sy sal gemis word deur almal wat haar geken het of selfs net in aanraking gekom het.

“Ek sal haar onthou as ’n God-vresende, opregte, liefdevolle mens met ’n hart groter as haar pragtuin,” het Bekker bygevoeg

“Ons bedank graag vir Pieter van Diamond Alarms wat so professioneel opgetree en van hulp was, asook kapt. Van Rooyen en sy span wat alles so goed ondersoek en leidrade opvolg,” het die gemeenskap en familie vertel.

Die spanne betrokke doen alles in hul vemoë om die voorval ten volle te ondersoek.

Die gemeenskap se samewerking en mooi boodskappe word waardeer en ’n beroep word gedoen dat enige vals nuus en spekulasies nie versprei word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version