Local newsNewsStreeknuus

Cullinan-kunstenaar deel haar storie

Met skilderye oorsee en ’n visie in haar kop, skilder Mercia een streep na die ander.

Mercia Hartmann, ’n kunstenaar van Cullinan, het die verfkwas vir die eerste keer in 1993 opgetel nadat sy as 16-jarige ’n kunskompetisie gewen het.

“In 2009 het ek voltyds begin skilder siende dat die kunsliefde van kindsbeen af deel van my was,” het sy laat hoor.

Mercia het ’n verbintenis met haar werk, veral met die onderwerp wat sy skilder.

Haar medium is grotendeels olieverf, hoewel sy al met verskeie mediums eksperimenteer het.

“My eerste skildery was van ara-papegaaie (macaws) in ’n park.”

Diere is haar gunsteling om te skilder, want sy glo in hul stilte spreek hul oë meer as wat op enige ander plek vasgevang sal word.

Die skildery beeld die protea in die natuurskoon uit.

“Die oë is ook die kern wat die emosie van haar skildery bepaal.

“Die oë vang my oog, veral met diere. Dit is alles in die kyk, maar wanneer ek blomme verf, voel dit asof ek verbind is aan die kleure,” het sy vertel.

Van haar skilderye hang oral, selfs in die Kaap, Engeland en Nieu-Seeland.

Die boodskap agter haar kuns lê selfs dieper as die emosie waarmee sy skilder.

Vir haar gaan dit oor die vrae wat in haar losgelaat word en wat sy hoop ook in mense wat na haar skilderye kyk, sal opduik.

Die blommerangskikking wat sy geskilder het vol geur en kleur.

“Ons moet ons wilde diere waardeer en respekteer. Hoe gaan ons wêreld lyk oor 50 of 100 jaar van nou af?

“Gaan ons nog leeus, olifante en renosters hê?

“Hulle word gestroop en bedreig. Ek wil hê mense moet na die skildery kyk en die dieper konsep verstaan dat as ons nie gaan plan maak nie, gaan hulle net in verf teen ’n muur bestaan,” het sy verduidelik.

Kuns is vir haar ’n kommunikasie-vorm, dus skilder sy gesigte, landskappe, diere en verskillende voorwerpe waarmee sy in gesprek kan tree.

In haar skilderye wil sy die mens uitdaag om verder te dink en die antwoord te soek.

“Ek skilder om die leefwyse van diere te onthou sodat daar herinnderinge sal voort leef, maar dat daar ook ’n ernstige insig in ons openbaar sal word,” het sy afgesluit.

Related Articles

Back to top button