VKLM se watermeters gaan glo weer gelees én geleidelik vervang word

Inwoners van Sundra, Rietkol en Eloff bly die gereelde slagoffers van swak of geen watervoorsiening.

Vir menige jare is die inwoners van die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) se watermeters nooit gelees nie.

Rekeninge was op skatting van maandelikse gebruik gebaseer.

“Hierdie tendens het veroorsaak dat foutiewe rekeninge aan verbruikers gelewer word,” het Pieter Senekal, raadslid van die Vryheidsfront Plus, gesê.

“Daar is intussen op Eloff, Sundra, Rietkol en Delmas nuwe voorafbetaalde meters geïnstalleer.

“Hiervan is daar egter min oor, want dit is oor ‘n lang tydperk gesteel, sommige hiervan reeds so lank as drie jaar gelede. (Streeknuus, 5 Maart 2021).

“Dié diefstal het daartoe gelei dat daar direkte koppelinge op die hooftoevoerlyne gemaak is. Dit het tot groot verlies aan inkomste vir VKLM gelei,” het Senekal gesê.

Daar sou op hierdie verbruikers se rekeninge slegs ‘n vaste koers standaardbedrag bygevoeg word.

Senekal het Streeknuus meegedeel dat VKLM ‘n bedrag van R20m van die staat toegeken is.

“Dit is spesifiek vir die opgradering van die waterstelsel binne VKLM. Daar gaan weer watermeters geïnstalleer word om foutiewe en gesteelde meters te vervang.”

“Hierdie projek sal op 1 Julie vanjaar begin en sal op 30 Junie 2024 ten einde loop. Die vervanging van watermeters gaan oor die hele VKLM geïmplementeer word.”

Volgens Senekal, is hierdie projek genoodsaak omdat die munisipaliteit groot verliese gely het weens direkte koppelings en foutiewe rekeninge.

“Slegs sowat 60% tot 70% van water wat by die verskaffer, Randwater (RWR) aangekoop is, kon van die verbruikers verhaal word.”

‘n Voorbeeld van ‘n geplunderde voorafbetaalde watermeter.

Senekal het gesê dit is waarskynlik die rede waarom VKLM se uitstaande skuld by RWR so hoog is.

Volgens ‘n Facebook-plasing van Senekal, sal meters weer gelees word as ‘n poging om foutiewe rekeninge reg te stel en verliese te beperk.

“Daar gaan ook sterker en meer effektiewe kredietbeheer toegepas word. Optrede teen wanbetalers kan ook verwag word,” lui die Facebook-plasing.

“Die tegniese afdeling van VKLM gaan die finansiële departement ondersteun deur watermeters op te spoor en weer oop te maak. Ondersteun asseblief die amptenare hierin,” het Senekal gevra.

“Kom ons hoop en glo en werk saam waar dit moontlik is om van hierdie projek ‘n sukses te maak, dit hou die moontlikheid in om ons waterstelsel tot ons almal se voordeel te verbeter,” het Senekal afgesluit.

Inwoners van VKLM het egter hul bedenkinge oor die groot som geld wat deur die staat aan VKLM toegeken is.

Inwoners van Sundra, Rietkol en Eloff bly die gereelde slagoffers van swak of geen watervoorsiening.

Redes wat hiervoor gegee word, wissel van verouderde infrastruktuur en pompe wat uitbrand tot kragtoevoerprobleme en vele meer.

“Wat gaan ‘n nuwe watermeter my help as ek byna nooit water het nie? Gee eerder net vir my water,” het ‘n ontstoke inwoner van Eloff gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version