Sundra-kleuterskool en gemeenskap skenk mildelik om Marno Muller te help

Funtazia Kleuterskool het ’n kompetisie geloods en kaartjies teen R10 elk verkoop. Die gemeenskap het hul harte en beursies oopgemaak en in totaal was daar ’n bedrag van R38 400 ingesamel.

Die hele land dra saam aan die hartseer van klein Marno Muller wat in ’n fratsongeluk by sy kleuterskool in Brakpan beseer is.

Soos berig in Streeknuus (3 Junie), het Funtazia Kleuterskool op Sundra besluit om ’n geldinsamelingsprojek te loods ten einde Marno se ouers finansieel by te staan.

Funtazia Kleuterskool het ’n kompetisie geloods en kaartjies teen R10 elk verkoop.
Die gemeenskap het hul harte en beursies oopgemaak en R38 400 is ingesamel.

Funtazia het ook hul gelukkige wenners aangekondig. Die eerste prys is deur Michael Kotzé gewen, die tweede prys deur Chantelle Swanepoel en die derde prys is deur Angelique Lennox opgeraap.

Die hoof van Funtazia Kleuterskool, Pauline Lotz, het almal bedank wat bygedra het tot Marno se geldinsamelingsprojek. Volgens Lotz het Funtazia se kaartjieverkope ’n bedrag van R14 670 ingebring.

“Ons kon daarin slaag om ’n verdere R23 730 in te samel. Daarvoor bedank ons Alfa Slaghuis op Eloff, en Heidi- en Rakkers Kleuterskole op Delmas. Dankie ook vir elkeen vanuit die gemeenskap wat ’n bydrae

gemaak het. Ons waardeer dit opreg,” het Lotz laat hoor.

Teen druktyd het Lotz bevestig dat hulle reeds R37 000 in Marno se ouers se rekening oorbetaal het.

“Ons wag nog vir ’n verdere R1 400 om in ons bankrekening te wys en sal dit dan ook oorbetaal.”

“Die geld is op aanbeveling van die niewinsgewende organisasie, Hemelse Pêrels, in die ouers se bankrekening betaal om hulle sodoende by te staan en die finansiële druk te help verlig.”

Marno Muller (5) voordat hy in ’n fratsongeluk by sy kleuterskool betrokke was. (Foto: Facebook)

Nadia Minnie, Marno se tannie, het ook namens sy ouers hul dankbaarheid teenoor Funtazia Kleuterskool en die Delmas-gemeenskap uitgespreek.

“Baie dankie, ons waardeer dit opreg en is verskriklik dankbaar vir die hulp.”

Marno het ongelukkig op Vrydag, 3 Junie ’n terugslag beleef. Volgens inligting het hy ’n virale infeksie in sy longe opgedoen en sy regterlong het ook platgeval. Hy het ’n hoë koors weens die infeksie ontwikkel en is steeds van lewensondersteunende toerusting afhanklik.

Teen druktyd was Marno nog in ’n kritieke toestand in die waakeenheid van die Garden City-hospitaal.

Volgens ’n Facebook-inskrywing het Marno se longe egter verbeter. “Hy ontvang nou drie-uurliks voeding en reageer goed daarop,” lui die inskrywing.

Die publiek is steeds welkom om skenkings aan Hemelse Pêrels te maak in die volgende rekeningnommer: Hemelse Pêrels NPC, Standard Bank, rekeningnommer: 020 196 229, takkode 012 442, verwysing: Marno.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version