Local newsNewsStreeknuus

Vlieënier van Boschkop bou graag vliegtuie

"Ek moet een of twee keer elke drie weke vlieg anders raak ek mal”

Soos ’n mens by sy hek inry, ry jy feitlik deur sy aanloopbaan.

In sy werkswinkel sit ’n ouer weergawe van die jong 10-jarige seun wat sy plafon blou geverf het met 40 Airfix-vliegtuie wat vanuit sy dak hang.

“Nie een hang dieselfde nie en een is ’n vegvlieënier wat die ander een skiet. Ek het die lig in my kamer so geverf soos die maan en my plafon blou met die maan wat opkom en die vliegtuie wat daar vlieg.”

Leon Joubert, ’n plaaslike vlieënier van Boschkop is een van die enigste 12 vlieëniers wat aan die Red Bull Air Race Wêreldkampioenskap kon deelneem as die span se tegnikus.

Joubert het ’n kunsvliegtuig gebou en het self ook deelgeneem aan dié sport.

Die kunsvliegtuie het drie kategorieë naamlik sportman, intermediêr (middelklas) en gevorderd.

“Dit is rigied, volgens reëls en baie presies. Dit kan byna vergelyk word met ’n gimnas wat op die mat dans,” het hy vertel oor kunsvlieg.

Joubert en Glen Dell wat wêreldkampioen in kunsvlieg was, het vir byna drie jaar saamgevlieg en die wêreld gesien waar hulle 17 wedvlugte voltooi het.

“Vir Suid-Afrika om ’n wêreldkampioen te hê, is op ’n hele ander vlak. Glen was toe genooi om die Red Bull Air Race te vlieg. Die vliegtuig moes elke keer uitmekaar gehaal, verpak en vervoer word vir ’n wedvlug.

Aan die ander kant moes jy die vliegtuig weer aanmekaar gesit het om oor twee dae te kan vlieg,” het hy verduidelik oor een van die grootste hoogtepunte in sy loopbaan.

Joubert was 10 jaar oud toe hy sy eerste modelvliegtuig, ’n geel en blou PT 19 Trainer wat hy vir Kersfees by sy pa gekry het, gebou het.

Nou bou hy lewensgrootte vliegtuie waarmee hy kan vlieg. Hy het al sewe van hierdie vliegtuie gebou.

“My pa wou ’n vlieënier gewees het en hy het deur al die kursusse gegaan met die wete dat hy kleurblind is. Nie te min het hy deur die memorisering van die kleure aanvaarding in die lugmag gekry. Daar het hy ’n toets met ’n ander boekie gekryf en is uitgevang. My pa het daardie vlieg-roeping gehad wat ek geërf het. Ek was nog klein toe ek geweet het ek wil nie net modelvliegtuie bou nie. Ek wou self ook vlieg,”

Hy het vliegtuie uit verskeie materiale gebou, selfs uit tamatiekassies se planke.

“Ek het modelvliegtuie gebou, veral Baby Bee’s. Daardie vliegtuigies wat jy aan ’n toutjie rond vlieg. Elke keer as my ma gaan inkopies doen en ek weet sy moet tamaties koop, dan het ek saamgegaan, want dan het ek die tamatiekassie gekies. Ek het die hout gebruik om my volgende vliegtuig te bou,” het hy bygevoeg.

Bouprojek nommer nege is ’n Lancair 360 wat sowat 50% voltooi is.

Joubert het in 1987 ’n mikrovliegtuiginstrukteur by Rhino Park geword.

Hy het sy eerste muggievliegtuig gekoop en drie gebou.

“Maar ek wou vinniger vlieg,” het hy vertel

Volgens Joubert lyk die eerste vliegtuig wat jy bou, glad nie soos jy dit voorgestel het nie en jy leer baie van jouself met elke projek en elke deel wat jy oor ’n tydperk bou.

“Hoe jy oor jouself voel, is tog sigbaar in enige iets wat jy doen.”

Joubert het toe die kans gekry om ’n halfklaar monteerstel-vliegtuig te koop.

“Die woord kit klink soos iets wat jy aan mekaar sit en môre vlieg jy, maar daar is eintlik ontsaglik baie elemente. Dit is net ’n leë raam en jy moet self die enjin, skroef, instrumente, bekleedsel en elektronika bekom en installeer. Daar is ook baie papierwerk om dit uiteindelik lugvaardig te laat sertifiseer.”

Joubert het ook sy vlieglisensie die ouderdom van 30 verwerf.

Tans staan daar drie vliegprojekte in sy werkswinkel wat hy graag klaar wil bou voor hy sy laaste asem uitblaas.

Hy het selfs ’n groter werkswinkel aangebou om sy vliegtuite in te bou en te huisves.

“Dit vat lank. Ek werk al sowat vyf jaar aan dit waarmee ek tans besig is. Jy bestee ’n leeftyd en jy het ’n beperkte aantal lewenssekondes. In my werkswinkel is genoeg plek om sommer drie gelyktydig te bou,” het hy laat hoor.

Sy Speed Rally en President’s Trophy Air Race trofees.

Hy glo visualisering is belangrik wanneer dit kom by vliegtuie bou.

“Visualiseer hy staan daar klaar en vra jouself is dit wat ek wil hê?

“Dit is die belangrikste vraag, want as jy nie presies weet wat jy bou nie gaan jy motivering verloor. As jy agterkom na die tyd, halfpad deur die projek dat daar eintlik iets anders is wat jou oog trek, gaan jy nooit een vliegtuig klaar bou nie,” het hy verduidelik.

Hy is ook besig om ’n Alfa Spider 1972 model wat hy nog altyd wou gehad het, te restoureer.

“Toe koop ek maar ’n wrak en bou hom verder.”

Hy is nie net ’n vlieënier nie, maar was ook vyf jaar lank ’n professionele musikant en is geken as ’n baskitaarspeler.

Die gevoel van vryheid is sinoniem met sy liefde vir vlieg. Dit is vir hom ’n bekendheid wat hy glo ingebore is.

“As ’n ingenieur probeer ek altyd om die filosofie te kwantifiseer in ingenieursterme. Daar is vryheid en verantwoordelikheid op die grafiek en dan is daar ’n reguit lyn. Hoe meer vryheid jy wil hê, hoe meer verantwoordelikheid moet jy vat,” het hy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button