Local newsNews

Groot bokslegende sterf op Evander

Fires van Vuuren sterf weke na sy vrou.

Johan van Vuuren (87), beter bekend as ‘Fires’ is op Vrydagaand, 27 Mei by sy huis op Evander dood.

Volgens sy dogter, Liza le Grange, wat hom en sy vrou, Martie van Vuuren (83), versorg het en by hulle gewoon het, het hy meer as een klein beroerte-aanval gehad, maar sy glo hy is dood weens ’n gebroke hart.

Martie is op 23 Maart vanjaar dood en Fires het gesukkel om haar dood te verwerk.

“My pa het so baie gebid dat my ma langer moes lewe en hy het baie geworstel met die Here na haar dood,” het Le Grange vertel.

Le Grange het Martie vir bykans drie jaar versorg nadat sy ook ’n beroerte gehad het en verlam was aan die een kant van haar liggaam.

“My pa was oortuig dat my ma sou herstel, hy wou net nie aanvaar dat sy agteruit gegaan het en nie gaan herstel nie.

“By haar begrafnis, het hy die hele tyd net met sy kop op sy knieë gesit en na die diens kort-kort gevra waar my ma is.”

Hy was vir langer as 50 jaar betrokke by die N.G. Kerk op Evander en hy was vir jare ook die koster van dié kerk.

Fires was op sy jare ’n bobaas-boksafrigter en skeidsregter en hy was vir jare die oudste aktiewe lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Boksorganisasie (Sambo).

Hy was ook vir jare by die Mpumalanga Boksorganisasie betrokke as die president.

Sy boksloopbaan het hom al na die Olimpiese Spele en die Afrika Spele geneem en hy het al bekende boksers, wat die Abbot-broers insluit, afgerig.

Hy was tot voor die Covid-19-pandemie by die boksklub by Graceland Hotel, Casino en Buiteklub betrokke.

Hy was vroeërjare by die Evander Boksklub en die Sasol Boksklub betrokke.

“Met Covid-19 toe allles toegemaak het, was dit ook asof hy teruggesit is en nie meer lus was vir die lewe nie en toe my ma dood is, is dit asof hy net finaal opgegee het,” het Le Grange gesê.

Fires was kort voor sy dood vir 10 dae in die hospitaal na hy geval het.

Hy het in die laaste ruk ’n paar keer geval en ’n spesialis het ook opgetel dat sy brein gekrimp het en dat hy aan Altzheimers se siekte gely het.

Hy het ook net voor sy dood met longontsteking gesukkel.

Le Grange onthou haar pa se laase woorde was ‘baie mooi’ en hy het dit gesê terwyl hy na ’n foto van hom en sy vrou gekyk het wat hy wou hê Le Grange moet spesifiek in A4 vir hom laat vergroot.

Die egpaar was 42 jaar getroud en het getrou nadat beide hul eerste huweliksmaats aan die dood afgestaan het.
Fires se roudiens vind op Saterdag, 11 Junie om 11:00 vanuit die N.G. Kerk op Evander plaas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button