Local newsNewsStreeknuus

Kleuterskool op Sundra vra bydraes om vyfjarige te help

Daar was met Marno na die Life Dalview-hospitaal in Brakpan gehaas. Met sy aankoms by die hospitaal was daar geen polsslag of hartklop nie en hy was blou. Daar was merke aan sy gesig, skynbaar te wyte aan die feit dat hy gespartel het om los te kom en daar was ook blou wurgmerke aan

Funtazia Kleuterskool van Sundra het ’n kompetisie van stapel gestuur om geld in te samel vir ’n seuntjie wat ná ’n fratsongeluk, in ’n kritieke toestand in die Netcare Garden City-hospitaal in Mayfair verkeer.

Die fratsongeluk waarin klein Marno Muller (5) van Brakpan betrokke was, het sosiale media behoorlik aan die gons en gebede en ondersteuning stroom van oral in.

Die ouers het slegs ’n hospitaalplan en die spesifieke hospitaal dra nie dekking onder die plan nie.

Funtazia het daarom besluit om ’n kompetisie te loods waarin kaartjies teen R10 elk gekoop kan word.

“Rakkers- en Heidi Kleuterskole van Delmas help ons ook en ondersteun ons inisiatief om geld vir Marno se hospitaalkoste in te samel,” het Pauline Plotz, hoof van Funtazia Kleuterskool gesê.

Marno Muller (5) voor die fratsongeluk. (Foto: Verskaf)

Klein Marno het op Donderdag, 26 Mei by sy kleuterskool op ’n klimraam gespeel. Wat hierna gebeur het, is steeds nie heeltemal duidelik nie.

Dit blyk egter dat Marno se baadjie se toutjies êrens aan die klimraam vasgehaak het en hierna om sy nek styf getrek het.

Marno het dus gewurg en was glo vir sowat 10 minute sonder suurstof.

Marno Muller is in ’n kritieke toestand in die Garden City-hospitaal.

Daar is met Marno na die Life Dalview-hospitaal in Brakpan gehaas. Met sy aankoms by die hospitaal, was daar geen polsslag of hartklop nie en hy was blou.

Daar was merke aan sy gesig, skynbaar te wyte dat hy gespartel het om los te kom en daar was ook blou wurgmerke aan sy nek.

Volgens Marno se tannie, Nadia Minnie, was die kleuter vir sowat ses ure in die hospitaal, maar is daarna na die Netcare Garden City-hospitaal in Sandton oorgeplaas.

Minnie het verder gesê dat die beraamde kwotasie wat die hospitaal aan die ouers gegee het, sowat R350 000 beloop.

“Ons moet egter ook sorg dat Marno se ouers, Helga en Rudi Muller, by Marno kan uitkom vir besoeke. Hulle moet elke keer 150km aflê om dit moontlik te maak.”

“My suster Helga is stukkend en hanteer Marno se toestand baie sleg. Sy het boonop nog klein Marno se ouer boetie (6) na wie sy ook moet omsien. Hy vra gedurig waar Marno is. My sussie huil aaneen, sy eet nie, sy slaap nie,” het Minnie Streeknuus meegedeel.

“Dit gaan nie goed met Marno nie. Sy niere funksioneer nie reg nie en hy is baie geswel. Die hospitaal gee ook steeds vir hom medikasie om sy bloeddruk te probeer beheer.”

Funtazia Kleuterskool in Sundra het ’n geldinsalmelingskompetisie geloods om vir Marno Muller se ouers by te staan met hul mediese kostes. (Foto: Verskaf)

Teen druktyd was Marno steeds op 40% suurstof en 100% verdowing om die klein liggaampie kans te gee om te rus voordat daar weer gepoog sou word om die suurstof te verminder en hom by te bring.

Marno was ook steeds aan ’n hartmasjien en ventilator gekoppel.

Minnie vra dat enige iemand wat bereid is om ’n skenking ten bate van die ouers te maak, haar kan kontak by 078 249 1971.

Minnie maak ook strikkies wat teen R5 verkoop word en waarvan die opbrengs onder andere na die ouers se uitgawes sal help omsien.

Hier is etlike van die masjiene wat tans rondom Marno se hospitaalbed te siene is. (Foto: Verskaf)

Nog ’n organisasie wat bystaan met die geldinsameling is die niewinsgewende organisasie, Hemelse Pêrels.

Bydraes kan gemaak word aan Hemelse Pêrels, Standard bank rekening no: 020196229, takkode: 12442 met Marno as verwysing.

In eie geledere kan kaartjies by Funtazia Kleuterskool aangekoop word. Nie net help dit met die astronomiese mediese uitgawes van die Muller-gesin nie, daar kan ook pryse gewen word.

Om kaartjies te koop in Sundra en omgewing kan Chanell by 083 567 7972 of in Delmas Soné by 083 393 1714 gekontak word. Kaartjies is ook by Rakkers Kleuterskool en Heidi Kleuterskool beskikbaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button