CrimeNewsStreeknuus

Blouligkapers bly aktief in en om Delmas

Die drie kapers het in ’n in ’n wit Audi met blouligte gery en was volgens die slagoffer in vol polisie-uniform geklee. Die slagoffer was met ’n vuurwapen gedreig en was glo naby Boksburg in die veld afgelaai.

Volgens die polisie van Sundra en Delmas bly kapers baie aktief in die omgewing en vind kapingsvoorvalle byna daagliks plaas.

Die tendens blyk steeds polisievoertuie toegerus met blou ligte en kapers geklee in polisie-uniform te wees.

Hoewel Sundra deur ’n stiller tydperk met kapings gegaan het, was daar weer ’n skerp toename gedurende Mei. Swaar voertuie sowel as passasiersvoertuie blyk in die kapers se visier te wees.

Gedurende die vroeë oggendure van Donderdag, 12 Mei is ’n niksvermoedende vragmotor bestuurder deur ’n wit VW Polo met blou ligte in die paneelbord gestop.

Die bestuurder het uit sy vragmotor geklim met die doel om sy bestuurderslisensie aan die ‘polisiebeamptes’ te toon.

Hy was egter deur twee mans met ’n vuurwapen gedreig. Die vragmotor met ’n vrag staalkabels is gekaap en die bestuurder van die vragmotor is later in Midrand afgelaai.

Tydens nog ’n voorval in die Sundra-poliëringsgebied het ’n goudkleurige Toyota Avanza ’n voertuig op Dinsdag, 17 Mei om 14:00 met flikkerende ligte op die N12 gestop.

Ook dié kapingslagoffer is naby Benoni afgelaai. Hy is van sy Toyota Hilux beroof.

Nog ’n slagoffer is op Woensdag, 18 Mei omstreeks 20:45 van sy Toyota Hilux-bakkie op die N12 kort na die Delmas / Bapsfontein-oprit, beroof.

Die drie kapers het in ’n wit Audi met blouligte gery en was volgens die slagoffer in vol polisie-uniform geklee.

Die slagoffer is met ’n vuurwapen gedreig en is glo naby Boksburg in die veld afgelaai.

In ’n ander voorval op Donderdag, 19 Mei omstreeks 09:45 is ’n wit Isuzu-afleweringsvoertuig van ’n koeriermaatskappy met ’n vrag klere en skoene deur sewe kapers in ’n wit Mercedes Benz LMG en ’n wit Hyundai in die Rietkol-gebied voorgekeer.

Ook hier was daar glo vuurwapens betrokke.

Die kapers het navraag omtrent die vrag gedoen, slegs ’n paar kartondose geneem, die bestuurder en sy assistent in die agterkant van die Isuzu geboender en weggery.

Hulp is ontbied en die Isuzu is op die R50, rigting Bapsfontein teruggevind.

Volgens beide kapt. Carla Hartley, mediawoordvoerder vir die Delmas Polisie en kapt. Linky Olckers, bevelvoerder van die Sundra Polisie is die toename in kapings kommerwekkend.

Soos berig in Streeknuus (13 Mei), moet motoriste uiters bedag wees wanneer hulle op die N12, die R50 en die R42 reis.

Hartley het weer eens beklemtoon dat motoriste hul reise sorgvuldig moet beplan.

“Wees bedag op voertuie wat met blouligte in die motor se rooster en / of op die paneelbord toegerus is.

“Egte polisievoertuie is meestal met blouligte op die dak toegerus. As onraad vermoed word, ry stadiger, sit noodligte aan en ry tot by die naaste goed-verligte en veilige plek of na ’n polisiestasie indien moontlik.”

“Die kapers is meestal gewapen en gevaarlik, moet nie enige teenstand bied nie. Jou lewe is belangriker as jou voertuig en jou persoonlike besittings.”

Related Articles

Back to top button