Local newsNews

Magda Rörich getuig by PPK Gateway op Bethal

Kerk huldig ook medeleraars in.

“Het jy geweet jy hoef my nie te verstaan nie, jy moet my net vertrou?”

Past Magda Rörich het dié boodskap van die Here gekry toe sy in haar donkerste uur geworstel het met vrae oor hoe sy haar man sal kan begrawe terwyl sy in die hospitaal met ’n gebreekte rug gelê het.

Sy was onlangs ’n gaspreker by ’n konferensie by die PPK Gateway op Bethal waar sy op ’n humoristiese tog eg-eerlike wyse haar getuienis gegee het.

Sy het ook die voorsang en aanbidding gelei.

Magda, haar man Chris en een van sy kliënte het op 10 Januarie verlede jaar in ’n helikopter in die Krokodilrivier naby Brits neergestort.

Chris het daardie oggend sy vrou en twee kinders na Brits vir dié pret-verrassing geneem.

“Chris was so opgewonde. Hy wou so graag ’n helicopter pilot gewees het.”

Magda wou nie dié Sondagoggend saamgegaan het nie, maar omdat haar gesin so opgewonde was om uit die huis te kom, het sy ingestem, maar wou niks van vlieg weet nie.

Die eerste pretvlug het die kinders en hul pa vir die kliënt, wat ook die vlieënier en eienaar van die helikopter was, vergesel.

Magda is daarna omgepraat om ook vir ’n pretvlug te gaan.

Nie lank na hulle opgestyg het nie, het Magda ’n knak-geluid gehoor en toe het die helikopter geval.

“Ons het net-net in die rivier geval,” het Magda vertel.

Past. Magda Rörich getuig by die konferensie van die PPK Gateway op Bethal.

Terwyl die beseerde vlieënier kon uitkom om hulp te gaan soek, was Chris en Magda erg beseer en moes hulle aan die vliegtuig vashou om nie in die water te beland nie.

“Chris het gesê hy kry nie asem nie. Ek het aan die voorpunt vasgehou en Chris het agter vasgeklou.

“Ek het aan sy hand kon vat. Hy het gesê ek moet uitswem, maar ek kon nie beweeg nie.”

Chris het later vir Magda gesê hy kan nie meer nie, en het afgegly onder die water in.

“Ek wou ook laat los, want wat sou ek sonder my man doen? Maar die Here het vir my gesê: ‘Jou kinders!’”

Magda het telkens weens die pyn waarin sy verkeer het, haar bewussyn verloor.

Reddingswerkers het haar later gehelp en uit hul gesprekke, het sy afgelei dat Chris beslis dood is.

Die ironie wat haar altyd sal bybly, is toe een van haar redders vir haar gesê het: “Moenie worry nie, jy is nou veilig in die helikopter”.

Magda is na die hospitaal op Brits geneem en moes vandaar per lugambulans na Baragwanath Hospitaal vervoer word, maar omdat sy nie ’n mediese fonds gehad het nie, is R20 000 dadelik benodig.

“’n Boer in die omgewing het daai dag die geld betaal. Ek was so dankbaar. Hy het my nie eers geken nie.

“Ek het gehoor dié boer is ’n week later aan Covid-19 dood.”

Magda het vertel van die vyf maande wat sy Baragwanath Hospitaal was, hoe swaar dit was om nie haar kinders te kon sien nie en hulle nie eers in die begin geweet het waar sy was en hoe ernstig haar besering was nie, en ook oor haar geestelike oorlog.

Sy was verlam, kon nie regop sit of self haar lyf draai nie. Sy het baie tyd gehad om te dink en met die Here te praat.

Magda het ook eers later ’n selfoon gekry waarmee sy met haar mense buite in verbinding kon tree.

Sy het een aand kort na haar aankoms in die hospitaal met God geworstel.

“Ek het gesê: U het beheer oor lewe en dood, maar verduidelik dit vir my. My man is al 10 dae in die lykshuis, ek moet hom begrawe en my lyf is stukkend.

“Die Here het vir my gesê om Hom te vertrou. Dat die werklike dood is wanneer iemand vir ewig van Hom weg is.”

Magda is vol lof vir die personeel van Baragwanath Hospitaal, want al was daar nie luukshede soos koffie en breekware, of genoeg verpleegsters vir die groot aantal pasiënte nie, is geloof ’n integrale deel van die hospitaal.

“As jy gelowig is, is Baragwanath die plek om te wees. Ek het deur die nag in pyn geskree God is good, dan hoor jy net iemand iewers in die saal antwoord: All the time.”

Tydens ’n operasie toe sy onder narkose was, het sy ’n ervaring met Jesus gehad.

“Hy het aan my linkerkant gestaan, want met Sy regterhand red Hy. Daar het Hy my geestelik genees. Ek het gevoel hoe die swaarheid van my afval.”

Sy het met dié ervaring gekies om te leef, want “God is lewe”.

Vooruitsigte vir rehabilitasie was taamlik donker omdat Magda nie ’n mediese fonds het nie, totdat ’n onbekende persoon aangebied het om vir ’n privaat rehabilitasiesentrum in Pretoria te betaal.

Pastore Lona en Zack Thompson is nou medeleraars by die PPK Gateway op Bethal.

Magda kan nou al staan en loop, sy het nog nie gevoel in haar onderlyf nie en is nie skaam om te sê dat sy nog doeke dra nie.

“My wonderwerk is an ongoing process. Jou getuienis hoef nie eers te wag tot alles klaar is voor jy kan getuig nie,” het sy verduidelik.

Magda het ook intussen die vlieënier vergewe vir wat gebeur het. Daar was in die media sprake dat die helikopter se brandstof opgeraak het.

“Ek het nog nie ’n woord van die vlieënier gehoor nie, maar ek vergewe hom. Ek spreek hom vry en ek maak hom los,” het sy gesê.

Die ander sprekers by die twee dag-lange konferensie, was is dr. Marius Higgins en past. Nick Volschenk, die hoofleraar by PPK Gateway op Bethal.

Die gemeente het die Sondag ook ’n medeleraarspaar, pastore Zack en Lona Thompson ingeseën.

Die kerk se medeleraars is pastore Lona en Zack Thompson en dr. Silas en Liz James. (Foto: Verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button