Local newsNews

Stienie van Rooyen van Standerton het geen planne om nou af te tree nie

Sy is reeds vir 50 jaar in die vleisbedryf werksaam en kon op haar dag drie troues baasraak.

Stienie van Rooyen is reeds vir 50 jaar in die vleisbedryf werksaam en kon op haar dag drie troues baasraak.

“’n Oggendtroue op Ermelo, mioddagtroue op Secunda en terug na Standerton vir die aand se troue,” het sy vertel.

Stienie het altesaam 14 jaar vir wyle Kosie du Preez gewerk.

“Ek was in die fleur van my lewe en het kans gesien vir baie funksies.”

Sy het destyds op Bethal begin werk in die jare toe ’n blokvrou nie ’n toets afgelê het nie, maar dopgehou is of sy die verskillende snitte kon identifiseer, bewerk en sny.

’n Vinger is toentertyd met ’n saag verloor.

Haar oorlede man, Neels Fuhri en die kinders het na Standerton verhuis waar hul kinders, Susan, Neels en Gerhard by Hoërskool Standerton gematrikuleer het.

Stienie het na haar man se afsterwe met Tom van Rooyen in die huwelik getree en familiebyeenkomste is waar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders byeenkom.

Sy spog met 11 kleinkinders en drie agterkleinkinders en Tom het twee kinders, drie kleinkinders en een agterkleinkind.

Haar dogter Susan, eggenoot en kinders bly reeds in Kanada vir drie jaar.

“Ons het hul verlede jaar in die somer vir ses weke besoek,” het Stienie gesê.

“Kanada is baie mooi en nou spaar ek maar weer om oor te vlieg.”

Die Covid-19 protokolle het Tom en haar R4 500 uit die sak gejaag om twee toetse te laat doen.

Sy het ’n pluimpie aan die Kanadese owerhede uitgedeel, wat hul om 22:00 in ’n mobiele kliniek getoets het om die 24-uur-spertyd te haal.

“Die diens was puik,” aldus Stienie.

Sy werk van 7:00 tot 17:00 en neem nie sommer ’n middaguurverposing nie.

“Dit mors tyd om op ‘lunch’ te gaan.”

Haar gesondheid is origens goed, behalwe vir die klompvoete waarmee sy sedert geboorte versigtig mee omgaan.

Sy het operasies gehad en kon eers op die ouderdom van twee loop.

Die regte, mediese skoene maak haar dae gerieflik want sy staan heeldag en bedien klante.

“Ek het werksbevrediging en is lief vir die personeel en klante.”

Sy is op die plek omgeêllie as daar stukkies vet by gemaalde vleis is, daardie stukkies wat so bo-op in die pot kan dryf.

“Ek vat nie nonsens nie en is dadelik die hel in.”

Daar is geen sprake van aftree op hierdie stadium vir dié vrou nie.

“Die Here is goed vir my en ek wil by die slaghuis doodgaan.”

Related Articles

Back to top button