Eloff se Jerigo Opheffingsoord vier Paasfees

Lede vanuit die gemeenskap het die inwoners en kinders van Jerigo Opheffingsoord op Saterdag, 9 April verras met paaseiers en ’n smullekker worsbroodjie.

Die reënweer en snerpende koue kon nie die Paasfeesgees by Jerigo Opheffingsoord in Eloff blus nie.

Lede vanuit die gemeenskap het die inwoners en kinders van Jerigo op Saterdag, 9 April verras met paaseiers en ’n smullekker worsbroodjie.

Gaskunstenaars Pellie Christie en Jolene Vorster het die koue verdryf en die harte warm laat klop met vrolike musiek en sang.

Gaskunstenaars Pellie Christie en Jolene Vorster sorg hier vir vuurwarm vermaak op ’n yskoue dag. (Foto: Verskaf)

Die hoogtepunt vir die kinders van Jerigo was natuurlik die versteekte paaseiers.

Volgens die organiseerder, Cathrine von Molendorf, was daar ’n menigte paaseiers oral op die perseel versteek en kon die kleingoed in egte Paastradisie na die versteekte sjokoladeplesier soek.

Funtazia het gesorg vir hope pret en plesier deur twee springkastele vir die dag beskikbaar te stel.

“Dit het vir ons oor die viering van Paasfees vir die minder-gegoede inwoners van Jerigo gegaan. As ’n opheffingsoord beskik die inwoners nie altyd oor die fondse om die kleingoed so ’n bietjie te bederf nie,” het Cathrine gesê.

Diane Bath en Cathrine von Molendorf by van die skenkings wat ontvang is. (Foto: Jolene Vorster)

Volgens Cathrine, was dit egter nie net die kinders wat die dag geniet het nie. “Danksy ons borge en donasies wat ons ontvang het, kon ons ook worsbroodjies aan al die inwoners voorsien.”

Cathrine het haar opregte dank uitgespreek teenoor elkeen van die borge, naamlik André Hindle, Rebel Mini Market, CJ Williams Pharmaceuticals, Amalia van RealNet, Arrie Nel Apteek in Delmas, Funtazia en mense van NTT Toyota in Delmas. D&M Begrafnisdienste van Delmas het gesorg dat daar vir elkeen ’n stoel was om op te sit. “Sonder ons borge sou die dag net nie moontlik gewees het nie. Elke inwoner, en veral die kinders van Jerigo Opheffingsoord, het die dag se Paasfees-bederf vreeslik geniet.”

Cathrine sluit af deur vir Leon en Deidré le Roux opreg te bedank vir die liefdestaak wat hulle onder die inwoners van Jerigo verrig. “Onder die hand van Leon en Deidre is almal by Jerigo soos een groot gesin.”

Van die inwoners van Jerigo Opheffingsoord kuier saam tydens die Paasfeesvieringe. (Foto: Jolene Vorster)
Deidré le Roux en Diane Bath. (Foto: Jolene Vorster)
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version