Divan Venter van Trichardt wil eendag professionele sportster word

Rugby is sy gunsteling sportsoort.

 Divan Venter (13), ’n gr.7-leerder aan Laerskool Trichardt, het hoë ideale vir sy toekoms en het reeds een van sy doelwitte vir vanjaar bereik.

Dié veelsydige sportman en prefek, se mikpunte is om vanjaar aan die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap deel te neem en ook om vir die Craven Rugbyweek gekies te word.

Hy het op Saterdag, 12 Maart aan die Mpumalanga Atletiekkampioenskap deelgeneem en vir twee items, 100m en 200m hekkies, gekwalifiseer om aan die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap wat op 25 en 26 Maart op Potchefstroom plaasgevind het, deel te neem.

Venter het ook by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap goed gevaar en onder die Top 10 in die 200m-hekkies geëindig en ’n sesde pek verower. Sy aflosspan het derde geëindig.

Divan Venter van Laerskool Trichardt in aksie in die 100m by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap. (Foto: Verskaf)

Sy gunsteling-item in atletiek is eintlik die 80m-hekkieswedloop, maar hy het met die wegspring in die Gert Sibande-uitdunrondes gegly en het nie vir die Mpumalanga Atletiekkampioenskap gekwalifiseer nie.

Sy ma, Antoinette Venter, het gesê hy het sedert hy begin skoolgaan het, aan atletiek en rugby deelgeneem, maar het eers verlede jaar skielik uitgestyg in atletiek en die medaljes begin inryg.

Sy glo die basis vir sy sport is reeds gelê toe hy vyf jaar oud was en aan Taekwondo begin deelneem het.

“Daar het hy baie fiks geword en ek glo dit het sy liggaam sterk gemaak,” het sy gesê.

Dié jong sportman moes egter later kies tussen al die sportsoorte by die skool en Taekwondo en het toe besluit om eerder op rugby en atletiek te fokus.

Sy gunsteling-sport is rugby en hy het sedert sy eerste skooljare aan Bulletjie Rugby en die destydse Rugga Rugby deelgeneem.

Sy rugbyloopbaan lyk net so belowend soos sy atletiekloopbaan en hy het verlede jaar aan die Gert Sibande-rugbyproewe deelgeneem en is al verskeie kere as die Man van die Wedstryd en ook die speler wat die meeste drieë gedruk het, aangewys.

Divan Venter spring vér tydens ’n atletiekbyeenkoms. (Foto: Kerry Bird)

Op die atletiekveld is dit nie net hekkies en naellope waarin hy goed gevaar het nie, hy het al onder die Top 15-atlete in Mpumalanga in gewigstoot geëindig en hy het ook goed gevaar in spiesgooi, hoogspring en vérspring en goue medaljes in al dié items by Laerskool Trichardt se interhuis-atletiekbyeenkoms verwerf.

Volgens sy ma is Divan nog altyd ’n gedrewe en doelgerigte kind wat nie sommer ’n rugby- of atletiekoefening misloop nie.

“Hy staan as die vinnigste kind in die skool bekend,” het sy vertel.

Hy volg nie tans ’n spesifieke eetplan nie, maar hy oefen vier keer weekliks by ’n biokinetikus by Hoërskool Secunda waar Divan aan sy soepelheid, krag, spoed en balans werk.

Hy oefen dan ook vier keer weekliks by die skool, elke tweede dag rugby en elke tweede dag atletiek.

Divan wil eendag professioneel rugby speel en mik vir die All Blacks-span in Nieu-Seeland.

In sy vrye tyd geniet hy dit om met maats te kuier of om rekenaarspeletjies te speel.

Sy ma glo in balans en maak seker dat sy akademie nie agterweë bly nie.

Divan Venter by sy afrigter, Mike van der Walt, by Hoërskool Secunda waar Divan vier keer per week oefen. (Foto: Verskaf)
Exit mobile version