Secunda-model droom daarvan om na Amerika te gaan

Lanique kort nog R39 000.

Lanique Jansen van Vuuren (13) is gekies om ’n internasionale talentskou en werkswinkel vir modelwerk in Amerika by te woon in Julie.

Dié geleentheid het Lanique reeds in 2019 te beurt geval en sy sou in 2020 Amerika toe gegaan het, maar weens die Covid-19 pandemie is dié geleentheid na vanjaar uitgestel.

Haar ma, Launa Jansen van Vuuren het reeds die grootste deel van hul reis na Amerika betaal, maar kort nog R39 000 om dié droom vir Lanique te bewaarheid.

Lanique is by Kansa se Socialite Modelkompetisie wat in Oktober in 2019 in Brakpan gehou is, deur ’n verteenwoordiger van ‘International Talent Showcase’ (ITS) raakgesien en genooi na die geleentheid in Amerika.

By dié talentskou en werkswinkel wat in Tampa in die staat Florida in Amerika plaasvind, sal Lanique die geleentheid kry om aan ’n kompetisie deel te neem, afrigting by ’n kenner in die modelwêreld kry en dit sluit ook verskeie fotosessies en ander geleenthede in.

Lanique Jansen van Vuuren bestee graag tyd met haar honde. (Foto: Verskaf)

Lanique sal ook in ’n Amerikaanse tydskrif verskyn en verskeie werkswinkels voor haar vertrek na Amerika in Julie, bywoon.

Sy het, toe sy sewe jaar oud was, met modelwerk begin en reeds verskeie pryse ingeryg.

Lanique het by die Kansa Socialite Modelkompetisie pryse vir die beste persoonlikheid asook die mees fotogeniese model gewen.

Voor die Covid-19 pandemie het sy ook by verskeie ander modelkompetisies wat ‘Miss Country 2016’, ‘Miss Winter La Beaute 2017’, ‘Miss Summer La Beaute 2018’, ‘Miss Christmas Beauty 2018’, ‘Miss Candy Pop’, ‘Miss Superhero 2018’ en die Swartgoudfees 2018, insluit, pryse gewen.

Haar modelwerk het by die Alla Model en Skoonheidsonderneming afgeskop, maar deesdae loop Lanique model by die Jene Sais Quoi Model-akademie.

Dié jong model ontvang tuisonderrig en in haar vrye tyd maak sy graag Tik Tok, YouTube of Instagram videos of bestee tyd met haar drie honde.

Launa het twee geleenthede gereël om geld in te samel vir Lanique se reis na Amerika.

Dusty Dixon tree op Saterdag, 23 April op Trichardt op. (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse sanger, Dusty Dixon, wat die hoofsanger was van die sanggroep, Touch of Class en deel was van die televisie-program, Maak ’n Las met wyle Zak du Plessis, tree op Saterdag, 23 April op Trichardt op.

Kaartjies kos R50 per persoon en toegang vir kinders van 12 jaar en jonger is gratis.

Om jou plek te bespreek, skakel Launa by 061 065 7417.

Walkerpark Gholfklub bied op Saterdag, 30 April, ’n gholfdag ten bate van Lanique aan.

Ondernemings kan putjies borg op dié dag en gholfspelers kan inskryf en hul vaardighede op die gholfbaan wys.

Vir meer inligting, of om te bespreek, skakel Pieter Jacobs by 079 915 3360 of stuur ’n e-pos na Jacobs.pieterj@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version