Kunstenaar Michelle Lubbe stel nuwe liedjie vry

Vrou is dankbaar vir tweede kans op lewe na sy kanker oorwin.

 Michelle Lubbe (31) het van kleins af klavier gespeel en gesing en het op hoërskool sanglesse geneem en die Eisteddfod-pryse ingeryg.

Sy het op Trichardt grootgeword en ná skool sielkunde by Tukkies gaan studeer, maar dit is nie haar groot liefde en passie nie.

“Ek het dit net gedoen om my ouers gerus te stel,” het Lubbe vertel.

Sy het, toe sy 16 was, die kans gekry om na Universal Studios in Florida in Amerika te reis en daar deel te word van ’n popgroep vir dogters wat die sustersgroep van die destydse Backstreet Boys sou wees, maar haar ma, Annabel Lubbe, het op die nippertjie gesê sy voel nie gemaklik dat Lubbe gaan nie.

Dit het vir haar gevoel of sy haar dogter vir die wolwe gooi.

“Ek het my ma se instink vertrou, want sy was altyd reg oor alles.”

As troosprys het haar ouers vir haar ’n elektroniese baskitaar as geskenk gegee.

Lubbe kan verskeie instrumente speel, maar sy meen die belangrikste ‘instrument’ wat sy op hoërskool geleer speel het, is ’n DAW (Digital Audio Workstation) op die rekenaar.

“Dié programme is die ruggraat van alle musiek deesdae en ’n mens hoef nie ’n fisiese instrument te kan speel as jy weet hoe ’n DAW werk nie,” het sy vertel.

Sy het in haar hoërskooljare reeds ’n musiekgroep begin, maar in haar eerste jaar op universiteit is die groep tot niet.

Michelle Lubbe het onlangs haar nuutste liedjie, ‘Gods of Violence’ op verskeie internet-platvorms vrygestel. (Foto: Verskaf)

Lubbe het, terwyl sy haar graad in sielkunde en kriminologie gedoen het, traumaberading by die Steve Biko Hospitaal gedoen.

Sy het op hoërskool vir jare met depressie gesukkel en in haar matriekjaar probeer selfmoord pleeg.

Gedurende haar studentejare, terwyl sy as au-pair vir ’n gesin met vier kinders gewerk het, het sy besef dit gaan nog lank neem voordat sy ’n salaris as sielkundige sou verdien en het besluit om een van haar ander belangstellings meer ernstig op te neem.

Sy het begin studeer vir haar B.Com Rek-graad om ’n geoktrooieerde rekenmeester te word.

In dié tyd het sy begin klas loop saam met haar jongste sussie en sy het dié jare as haar gunsteling-jare op universiteit beskryf.

In haar tweede jaar van haar B.Com Rek-graad, het die universiteit haar genader om ekstra klasse vir die eerste-jaarsstudente aan te bied.

Sy is egter in April 2014 met limfklierkanker gediagnoseer en op daardie stadium het sy reeds haar skoolvriendin wat ook haar broer se meisie was, Robin van den Heever, aan bloedkanker afgestaan.

“Ek het ’n idee gehad van wat vir my voorgelê het, maar elke tree van my pad met kanker het ek gedink dat myne nie so erg soos Robin s’n was nie en dat ek ‘lucky’ was.”

Sy is teen die einde van 2014, ná ses rondes van chemobehandeling, kankervry verklaar, maar moes in 2015 haar studies staak omdat haar liggaam en brein nie meer die vinnige pas kon hanteer nie.

“Ek het tyd nodig gehad om te herstel en vir die volgende vyf jaar was ek basies bedlêend.

“Dit was vir my ’n baie moeilike tyd van my lewe, want ek wou so graag dinge doen en aangaan met my tweede kans op lewe.”

Sy het in dié tyd alles probeer om haar liggaam sterker te maak en dokters gesien en met persoonlike afrigters gewerk, maar niks het gehelp nie.

“Ek het myself in teendeel net sieker en swakker gemaak.”

Haar ma is ook in dié tyd, in 2018, aan bloedkanker dood.

Lubbe het uiteindelik in 2019 beter begin voel en kon vir langer as ’n halfuur in ’n winkelsentrum rondloop en het weer kans gesien om in ’n gimnasium te begin oefen.

“Ek was gereed om weer iets met my lewe te doen.”

Sy het dit oorweeg om haar B.Com Rek-graad klaar te maak of by ’n kleuterskool te gaan werk, maar het uiteindelik besluit om eerder weer musiek in haar lewe ’n kans te gee en dit nie net as ’n stokperdjie te beoefen nie.

Lubbe het musiek op haar rekenaar begin maak en gedurende die Covid-19-pandemie het sy baie leiding gekry deur ’n musiekmentorskapprogram aanlyn te volg.

Sy het onlangs haar eerste oorspronklike enkelsnit, ‘Gods of Violence’ aanlyn beskikbaar gestel en dié liedjie is gebasseer op Neil Gaiman se boek, American Gods.

“Toe ek na sy en Stephan Fry se oudio-boeke geluister het, het ek gewonder watter gode mense in vandag se tyd sou aanbid en ek het dadelik gedink aan die god van sosiale media en daar sou vir seker ’n god van tegnologie wees.

“Die god wat egter al die jare nog aanbid word, sou beslis die god van geweld wees, so het ek besluit om dié liedjie, Gods of Violence, te skep.”

Dié liedjie van Lubbe was ’n internasionale spanpoging omdat dit gesing is in Suid-Afrika, die musiek is geskep in Frankryk, die klavierstuk is opgeneem in New York en die finale produk is in Mexiko aanmekaar gesit.

Dié liedjie is in die eerste naweek wat dit vrygestel is, reeds meer as 3 000 keer geluister.

In haar vrye tyd speel Lubbe rekenaarspeletjies, maak musiek of maak kos of bak.

Sy is getroud met haar hoërskoolvriend, Joachim Knoetze en die paartjie woon nou in die Kaap.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version