CrimeNews

Bethal-man gaan tronk toe vir seksdade met kinders

Ma van jong meisie versuim om saak te open.

 ’n Pa (38) van twee tienerseuns en oud-Bethaller is op Donderdag, 25 November in die streekshof op Secunda tot 22 jaar tronkstraf gevonnis vir seksuele oortredings op kinders.

Hy het by byeenkomste van familie en vriende, meisies tussen die ouderdomme van nege en 13 jaar gemolesteer en probeer verkrag.

Een van dié meisies se ma’s en die man se eksvriendin, is ook aangekla vir versuim om ’n saak aan te meld.

Sy het glo deur ’n sleutelgat geloer en gesien hoe die man haar dogtertjie betas en haar dogtertjie het vir haar gesê die oom vat aan haar.

Dié ma het in die hof aangevoer haar dogtertjie het nie vir haar vertel presies wat hy met haar gedoen het nie en sy het nie geweet hoe om dit te hanteer nie en wou eers dat die man ’n pastoor gaan sien voordat sy dit by die polisie aangemeld het.

Die man het ook haar dogtertjie gedreig en gesê dat hy haar ma sou doodmaak as sy iets sê.

Dié vrou is tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis wat opgeskort is vir vier jaar.

Die misdrywe wat hy gepleeg het, het op Bethal, Secunda, Kriel en Amsterdam plaasgevind.

Hy het vir een van die meisies wat hy seksueel aangerand het, pornografie gewys voordat hy haar betas het.

Hy het sowat ’n week voordat hy gevonnis is, een van die meisies geskakel en wou reëlings met haar tref om haar êrens op te laai.

Hy het beloof om haar later oorsee te neem. In die telefoongesprek het hy gesê hy hou nie van ouer vroue nie, maar eerder van jong meisies.

Die staatsaanklaer, me. Phumzile Nkosi, het gesê die beskuldigde is ’n wolf in skaapklere, want hy het al die meisies geken en was in baie gevalle ’n familielid of vriende van die slagoffers se ouers.

Sy het gesê hy die vertrouensverhouding wat die slagoffers se ouers met hom gehad het, misbruik.

“Hy is ’n pedofiel en verdien ’n lang tydperk van gevangenisstraf,” het me. Nkosi gesê.

Die streekslandros, mnr. Graham Cupido, het in die hof gesê die man het, as stiefpa van een van die meisies, sy posisie van outoriteit en vertroue misbruik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button