News

Skilder met perfeksionistiese streep besoek Standerton vir ’n kuiertjie

Me. Nazzaris woel in die tuin, verpes kosmaak, maak net ‘smoothies’ en ‘juices’, volg ’n vegetariese dieet en glo glad nie aan pille nie.

Trinni Nazzaris van Johannesburg het na ’n informele naweekgeselligheid op Standerton ’n paar van haar skilderye saamgepiekel juis omdat sy nie die kunsgaleryroete volg nie.

Dié dogter van wyle Org en Elize Rautenbach van die plaas, Excelsior, het aan Hoërskool Standerton matrikuleer.

Sy het destyds op Potchefstroom kunsklasse geneem en met waterverf begin, waar klem op tegniek geplaas is.

’n BA in Beeldende Kunste deur Unisa het haar verder toegerus met goeie, konseptuele idees wat voorrang geniet het.

Trinni het met bloed geskilder.

O ja, met osbloed en skaapvet waar die die vet uitgebraai is in haar kombuis, met haar man, Armando, wat moontlik maar die hasepad moes kies.

Die vet is op ’n plat oppervlak gegiet en beeldhouwerke wat uitgraveer is, is met bloed opgevul.

“My wortels is op die plaas geanker en ek wou die konsep van verganklikheid met die bloed illustreer,” het Trinni vertel.

“Die bloedwerke het uiteraard verbleik.

“Sommige mense het aanstoot geneem as hulle dit gesien het.”

Trinni het in haar Mazdatjie by ’n geleentheid in Houghton opgedaag en met haar trouman, Armando, kennisgemaak.

Hy is van Griekse afkoms en die paartjie het nie op tradisionele wyse die knoop deurgehaak nie.

“Ons was te oud om ouers te vra,” het Trinni gesê.

Hulle het bloot met ’n koek waarop geskryf was, ‘Just Married’, by die plaas opgedaag om Armando aan die familie voor te stel.

Armando was destyds bedrewe in skeepshuur en het vroeg in die 90’s na Suid-Afrika emigreer.

Hulle onderneming in Johannesburg spesialiseer in die verkoop van droë vrugte en neute.

Sy het teruggekeer na realisme en olieverf en vir die ou meesters soos Jan Vermeer, John Sargent en Lucian Freud agting.

Trinni se tesis het destyds gehandel oor Suid-Afrika se internasionaalgerekende Marlene Dumas.

“Ek hou van haar kleurgebruik,” het Trinni verklap.

Me. Nazzaris woel in die tuin, verpes kosmaak, maak net ‘smoothies’ en ‘juices’, volg ’n vegetariese dieet en glo glad nie aan pille nie.

Sy het deur die jare haar naam onderaan skildery begin wysig, eers was dit Trienie, toe Trinni en nou Catharina.

“Ek is nog nie waar ek wil wees wat my werk aanbetref nie,” het dié vrou benadruk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button