CrimeNewsStreeknuus

Bejaarde van Bronkhorstspruit praat oor martelnag toe rowers op haar plaas toegesak het

"Jy sien net die oë en dink niks want hy praat mos nou aan mekaar."

‘n Bejaarde vrou, me. Sterna Esterhuizen, sterk tans aan by ‘n vriendin, me. Antonette Coetzer aan nadat sy op Woensdag, 3 November, op haar plaas in die Leeuwfontein-omgewing aangeval en gemartel is.

Dié 84-jarige wat slegs drie maande alleen op die plaas woon, is omstreeks 23:00 op die plaas naby Bronkhorstspruit deur ses gewapende mans oorval en is deur die nag tot omstreeks 04:30 die volgende oggend aangerand.

aanval is blykbaar al die vorige Vrydag in ‘n plaaslike taverne afgespreek en fyn beplan. Volgens die polisiewoordvoerder, konst. Catherine Phungo, het die aanvallers diefwering van die plaashuis geknip en vier van hulle het die huis binnegedring.

“Toe ek die glasstukke hoor val, toe weet ek. Ek het vir myself gevra: Is dit nou ‘n aanval?

“En toe is hulle al in die kamer. Jy weet tóé kom hy,” het me. Esterhuizen laat hoor.

“Jy is so blank en dink dit is nou maar so. Jy dink niks, dit gebeur so vinnig en onverwags dat jy nie tyd het om jou foon op die bedkassie te gryp nie.”

Hulle het haar uit haar bed geruk en tot in die badkamer geboender waar hulle haar aangerand het.

“Ek so vol blou kolle, want hulle wil nou vir jou vasvat. Hy het die geweer op my gerig en my gedreig.

“Met die brand het hulle my toe niks gevra nie. Hulle intimideer jou net dat jy nou moet gee en sê. Dit was eintlik net om seer te maak.”

Me. Esterhuizen is onder meer met ‘n blaasvlam gebrand en die handstort was om haar nek gedraai, terwyl die booswigte inligting oor vuurwapens probeer kry het.

“‘Hoekom nie!’ is al wat ek onthou. Ek het net geantwoord: ‘want ek skiet nie’.

“Eers toe ek gedink het dat hulle weg is, het ek die prop uit die bad gehaal vir die water om uit te loop,” het me. Esterhuizen vertel.

Die rowers het me. Esterhuizen in die badkamer toegesluit. Die ander drie aanvallers het twee plaaswerkers agter die huis oorrompel en hulle ook glo vasgebind. Een van die werknemers het later losgekom en by die buurplaas gaan hulp soek.

Me. Coetzer glo egter dat die alarm wat gemaak was, net ‘n kamstige roep om hulp was en dat niemand eintlik vasgebind was nie.

Sy het eerste, kort voor die polisie, by me. Esterhuizen se huis opgedaag, en die huis ingehardloop en na haar vriendin geroep.

“Ek het later begin skree van bekommernis en toe hoor ek: “Antonette, ek is in die badkamer.”

Die soliede houtdeur is na vele pogings om hom af te skop, met ‘n koevoet oopgebreek.

“Toe kry ek haar op die toilet in haar pajamas en trui.”

Volgens me. Esterhuizen het haar honde die aand nie geblaf nie en ook nie gebyt nie, en daarom vermoed sy dat die aanvallers aan die diere bekend is.

Die rowers het die huis leeggedra en in ‘n Ford Ranger-bakkie wat hulle op die plaas gesteel het, gevlug.

Die sitkamerstel, twee yskaste, ‘n eetkamertafel, drie rekenaars, drie selfone, ‘n televisie, ‘n mikrogolfoond en ‘n wasmasjien is van die gesteelde goedere wat later in Retabiseng, die nabygeleë woonbuurt, gevind is.

Konst. Phungo het vertel die Ford Bakkie is in Ekangala gevind.

“Ek moet sê die polisie was net op die man af en deeglik. Twee en ‘n half ure, toe is die polisie al op pad om die gesteelde goedere te kry,” het me. Coetzer laat hoor.

“Goedere is teruggekry, maar ons weet nie in watse toestand dit is nie,” het me. Esterhuizen bygevoeg.

Volgens mnr. Llewellynn Hemmens, AfriForum se streekhoof, is daar op ‘n pakhuis afgekom waar verskeie gesteelde goedere gevind is.

Hy het gesê dat van die goed wat gevind is, ook verbind word met voorvalle wat op ander plase plaasgevind het.

Die polisie se misdaadintelligensiespan, Bronkhorstspruit Polisie se speurders en honde-eenheid, en die Tshwane Distrik se trio-taakspan, het reeds drie verdagtes vasgetrek, waarvan een ‘n plaaswerker is.

Hy het vir sowat 18 maande by me. Esterhuizen gewerk en het bedags die honde se komberse uitgeskud, die water- en kosbakke gewas en die honde gevoer.

Die verdagte plaaswerker het hierdie taak verrig sedert me. Esterhuizen se man, Gerhard, ‘n paar maande gelede weens Alzheimers in ‘n versorgingsoord geplaas is.

“Hy was die enigste een wat toegang tot die huis gehad het.

“Hy het ook die kaggel in die winter kom skoonmaak,” het me. Esterhuizen verduidelik.

Sy woon al meer as 30 jaar op die plaas waar daar met mielies en aggregates geboer is.

Me. Esterhuizen het ernstige verkalking in haar rug en op 80 het sy nie kans gesien vir ń rugoperasie nie.

Haar rug het net mooi herstel, maar met die voorval is die rug nou aansienlik vererger.

Tydens Streeknuus se besoek aan me. Esterhuizen het die bejaarde na haar gebrande hande met blase daarop gekyk en toe stil geword.

Die mooi herinneringe is waaraan me. Esterhuizen nou vashou.

“Die memory lanes wat in die sitkamer gedeel was. Net sommer in die sitkamer het ons op oorsese reise gegaan. Ek het aandenkings soos die Hollandse klopse, maar alles is tot niet. Die foto-albums het oop op die vloer gelê. My plakboeke. Ek weet nie waar om dit te gaan soek nie,” het me. Esterhuizen gesug.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button