NewsSchools

Secunda se Du Plessis-gesin maak skoonskip in fietsry

Kinders volg in ouers se voetspore op die sportveld.

Fietsry is die Du Plessis-gesin se gunsteling-sportsoort en tydverdryf.

Brand du Plessis en sy vrou, Wilmarie, het, voordat hulle kinders gekry het, graag saam fietsgery, gedraf en aan tweekampkompetisies deelgeneem.

Deesdae beoefen hulle sport saam met hulle drie kinders, Enmike (8), Brand (10) en Lu-Mari (13), leerders van Laerskool Secunda.

Die hele gesin het skoonskip gemaak toe hulle op Saterdag, 25 September in Pietermaritzburg aan die Suid-Afrikaanse nasionale XCO (Bergfiets) kampioenskap deelgeneem het.

Beide Brand (senior) en klein Brand het as die wenners in hul onderskeie afdelings, die veterane mans-afdeling en die nippers-afdeling vir seuns, weggestap terwyl Wilmarie tweede in die sub-veterane vroue-afdeling geëindig het en Lu-Mari derde in die sub-junior dogtersafdeling.

Enmike is nog te jonk om aan dié wedren deel te neem, maar sy ry gereeld saam met haar gesin fiets en neem aan ander wedrenne deel.

Klein Brand het begin fietsry toe hy nog nie eers drie jaar oud was nie en ma Wilmarie het vertel dit is vir hom makliker om by al die hindernisse op die baan wat hulle in Pietermaritzburg gery het af te gaan as vir haar en sy sussie.

“Hy het dadelik daar af gegaan, ek en Lu-Mari het vir dae eers gestaan en kyk en moed bymekaar geskraap voordat ons daar af gegaan het,” het sy gesê.

Sy het immers geval, maar net ’n paar skraapwonde opgedoen en opgestaan en verder gery.

Met dié bergfiets-kampioenskap kry deelnemers die kans om ’n paar dae voor die wedren die baan te sien en te oefen voor die groot dag.

Pa Brand het gesê spoed is ’n mens se vriend en hoe vinniger mens dié hindernisbane aandurf, hoe beter en hoe minder die kans om te val.

“Ons wil self al die wedrenne saam met ons kinders aandurf sodat ons hulle kan wys, ons weet ook hoe dit voel om swaar te kry as ’n mens moeg is en iemand langs die baan skreeu vir jou ry vinniger of hardloop vinniger,” het Brand vertel.

Die Du Plessis-kinders blink ook uit in landloop en atletiek en het al verskeie kere aan die Mpumalanga en Suid-Afrikaanse Landloopkampioenskappe, asook die Mpumalanga en Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe, deelgeneem.

Klein Brand het een jaar vierde in sy afdeling geëindig en sus Lu-Mari 13de.

Die laaste twee jaar is dit gekanseleer weens die Covid-19-pandemie.

“Ons as gesin hou van die buitelewe en om net uit te kom en te oefen, dit laat ’n mens goed voel,” het Brand gesê.

Ma Wilmarie draf deesdae meer, veral op die “tread mill” terwyl sy en Brand so twee tot drie keer weekliks fietsry.

Brand ry gereeld met sy fiets werk toe wat so 10km is en as hy huis toe ry, ry hy soms ’n ekstra draai om sy oefensessie vir die dag in te kry.

Hy werk by Sasol as instrument-tegnikus.

Die egpaar ry oor naweke langer afstande saam met fietsryvriende en sal dan sowat 90km of meer aandurf.

Brand het die Momentum Twee Kamp-reeks al nege keer gewen, hy was al twee keer na die Twee Kamp Wêreldkampioenskap en het vyfde geëindig in 2008 toe dit in Italië gehou is.

Dié kampioenskap is in 2009 in Concord in die staat North Carolina in Amerika gehou en Brand het weer deelgeneem, maar sy fiets is beskadig in die vliegtuig oppad daarheen.

Hy moes in Amerika ’n ander raam koop om te kon deelneem en hy het 16de geëindig.

Brand het ingeskryf vir die 94.7 fietsry-uitdaing, maar sal nog sien hoe lyk sy werksure en wat gebeur met die inperking.

Dié fietswedren en die Alzu-wedren vind beide in November plaas en die hele gesin sal dalk aan die Alzu-wedren deelneem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button