Vrou se been afgeruk toe vragmotor haar op Bronkhorstspruit raakry

“Haar been het agterstevoor langs haar gelê."

’n 55-jarige vrou se lewe het net voor 11:00 vanoggend, 22 Oktober, onherroeplik verander.

Dié inwoner van Ekangala wat in Bronkhorstspruit werk, is ernstig beseer toe ’n vragmotor haar op die hoek van Lanham en Charl Cilliersstraat raakgery het.

Volgens ooggetuies het die vrou al langs die sypaadjie gestap om vermoedelik ’n koeldrank te gaan koop, toe ’n steenkoolvragmotor haar getref het.

Die bestuurder van die Discount Tile-winkel, me. Melisande Raath, het vertel dat die vragmotors elke dag maak asof die hoek van die dorp se hoofstraat aan hulle behoort.

“Die vragmotor het haar van agter getref, want hy wou daar parkeer.”

Die vrou se linkerbeen is reg bo die knie afgeruk.

“Die vragmotor is bo-oor haar been. Die been is af – soos in af!” het me. Raath beklemtoon.

“Haar been het agterstevoor langs haar gelê,” het me. Raath laat hoor.

Die vrou het na die voorval net by die wiel aan die kant van die gebou in die straat gelê.

“Sy het nie eens geskree nie. Ek het net heel tyd haar rug gevryf en gesê sy moet stil lê. Sy was nog wakker en by haar volle bewussyn.”

Die ambulansdienste het die vrou sowat ’n uur later na Steve Biko Hospitaal vervoer.

Die polisie het die vragmotorbestuurder op die toneel in hegtenis geneem.

Me. Raath het vertel die voorval se skok sal haar nog later tref.

“Ek het niks gesien of gehoor op die presiese oomblik nie, maar ander mense het vir my gesê daar lê ’n vrou met ’n af been langs die trok. Toe toe gaan sit ek by haar, terwyl ander mense bel vir

ambulanse. Ek kon haar nie net so alleen daar laat lê nie.”

“Waarvoor is die plek gebou by die petroldepot op die hoek van Louis Botha en Burger as dit nie gebruik word nie?” het me. Raath gevra.

Exit mobile version