{MENINGSTUK} – Dis eenvoudig, leef en laat leef!

Wat ook al jou oortuigings, respekteer mense se andersheid, respekteer sonder om te sê: "Ek weet en respekteer dat jy nie geïmmuniseer wil word nie, maar het jy geweet...?" óf "Ek het 'n studie gelees rondom..."

Daar’s alweer ‘n vurige debat rondom die effektiwiteit van ivermektien aan die gang.

Eerlikwaar is ek redelik keelvol om gewone mense soos ek op Facebook daaroor te sien redekawel.

As jy dit wil drink, drink dit dan; as jy glo dis nie vir menslike gebruik bedoel nie, moenie dat iemand dit in jou keel afgooi nie!

As dit vir jou werk en al talle van jou familielede uit die kloue van die dood gehou het, is dit alte wonderlik.

Ons was as kinders soms Smarties as medikasie vir sommige kwale gegee, en dié het sommer bobaasresultate opgelewer.

Jy’t nooit aggeslaan op die feit dat vele ander faktore ook ‘n rol kon speel vir jou kwelling om sommer só eensklaps genees te gewees het nie; ons het bloot geglo Smarties is ‘n wonderkuur.

Ek het al berigte gelees van mense wat, selfs al het hulle ivermektien voorkomend gebruik, steeds aan Covid-19 dood is.

Ek het berigte gelees van mense en dokters wat daarenteen daarby sweer, en dat die resultate daarvan vanselfsprekend is.

Wat ek egter uit dié pandemie geleer het, is dat dit wat vir een werk, nie noodwendig vir ‘n ander doen nie.

Sommige fluks en blakend gesonde mense het al baie siek geword weens Covid.

Dis duidelik dat ons almal se biologiese samestelling anders is en verskillend reageer, hetsy nou wanneer ons Covid opdoen, ‘n entstof neem of allerlei medikasies sluk.

Maar wat my bowenal byval is dat dié virus nie net ons immuniteit aanval nie, maar ook ons mensliewendheid.

Dis nie genoeg dat Pietie ‘n naasbestaande aan die dood afgestaan het nie, nou moet hy boonop hoor dis oor die persoon hom nie laat inent het nie, of dalk omdat hy het, óf oor hy gekant was teen die gebruik van een of ander doepa óf juis vanweë die gebruik daarvan.

Die punt is, ‘n bietjie verdraagsaamheid kan baie ver gaan met ‘n virus wat blyk nie gou weg gaan gaan nie.

Wat ook al jou oortuigings, respekteer mense se andersheid, respekteer sonder om te sê: “Ek weet en respekteer dat jy nie geïmmuniseer wil word nie, maar het jy geweet…?” óf “Ek het ‘n studie gelees rondom…”

Almal glo hulle is donners slim omdat hulle iets iewers gelees het; intussen stry die oompies en tannies met hogere grade óók oor bevindinge.

Wat ek maak is my saak, solank niemand anders daardeur nadelig beïnvloed word nie.

Die Ingelse sê dit mooi: “Mind your own business!

Net soos die kerk soms strydend en geskei is weens interpretasieverskille, so óók word die mensdom – ongeag geloof, ras, of kulturele agtergrond – deur dié virus verdeeld.

Daar’s ‘n redelike eenvoudige oplossing hiervoor: leef en laat leef!

Exit mobile version