Local newsNews

Daleen Fourie van Ermelo laat ’n groot leemte agter

Vir dié vrou met haar omgeehart en passie vir ander, was dié beroep nie vir haar nie, en het sy baie gehuil oor die omstandighede waarin sommige mense verkeer het.

ERMELO – Daleen Fourie se skielike afsterwe op 6 September het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

Sy is op 2 September met Covid-19 in die Ermelo Mediclinic opgeneem.

Dit het Sondagaand aanvanklik gelyk of Daleen goed herstel het, en haar familie het verwag dat sy enige dag ontslaan sou word.

Hulle het egter vroeg Maandagoggend die nuus dat sy oorlede is, ontvang.

Daleen is op 8 Januarie 1956 op Ermelo gebore en het ook haar skoolloopbaan hier voltooi.

Ná skool het sy by die Suid-Afrikaanse Weermag Vroue Leer Kollege in George aangesluit.

Volgens haar kinders was sy altyd baie trots op haar tyd in die weermag.

Sy het later by die Universiteit van Pretoria maatskaplike werk studeer, waarna sy sowat vyf jaar in dié professie in Kroonstad gewerk het.

Vir dié vrou met haar omgeehart en passie vir ander, was dié beroep nie vir haar nie, en het sy baie gehuil oor die omstandighede waarin sommige mense verkeer het.

Sy het na Ermelo teruggekeer en in die versekeringsbedryf begin werk.

Dis hier waar sy haar liefde en passie vir mense, eers by Sanlam en daarna met die opening van Fourie Makelaars, werklik uitgeleef het.

Daleen was ’n dinamiese vrou wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie, en sy het nie geskroom om die ekstra myl te stap om haar kliënte by te staan nie.

Haar kinders het vertel dat sy altyd lojaal teenoor haar kliënte was, en haar telefoon selfs oor naweke geantwoord het.

Sy was in die top makelaar in haar groep en het menige pryse daarvoor ingepalm.

Om reëlings te tref en maniere te vind om mense tegemoet te kom, was sinoniem met haar.

Haar dogter, Estelle Fourie, sal voortaan aan stuur van Fourie Makelaars staan en haar ma se nalatenskap laat voortleef. Daleen sal onthou word as iemand wat baie en maklik kon lag en het met haar innerlike gelukkigheid baie mense se lewens aangeraak.

Sy het graag gesing en kon maklik in die prag van ’n sonsopkoms en sonsondergang kon verdwaal het.

Vriende en familie het gereeld foto’s van sonsopkoms wat deur haar kombuisvenster geneem is, ontvang.

Sy het altyd die mooi in die klein en eenvoudige dinge in die lewe gesoek.

Haar seun, Johan Fourie, het vertel dat hulle gedurende hul tyd in die bosveld menigmaal vir haar ’n klip in die veld moes optel wat dan in haar tuin ’n nuwe tuiste gevind het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button