Trollip-egpaar staan twee kinders aan die koronavirus af

Twee oproepe later en hul kinders is oorlede binne ’n driekwartuur van mekaar, slegs sewe minute tussen die oproepe.

Twee inwoners van Standerton spook om die verlies van hul twee kinders aan Covid-19 verwante oorsake te verwerk.

Mnr. André Trollip en sy eggenoot, Jeanette se rit na Gauteng verlede Maandagoggend het niks goeds ingehou nie.

“Ek is 1:50 geskakel oor my dogter Maryke se toestand en ons moes deurry,” het mnr. Trollip gesê.

Hulle seun, André, en Maryke was onderskeidelik in hospitale in Kemptonpark en Sunnyside, Pretoria, albei op ventilators.

André (sr) het die roete na Pretoria via Boksburg aangedurf omdat die pad plek-plek te sleg is.

Een oproep is om 2:40 gekry dat André in ’n kritieke toestand was.

Die mediese personeel moes hul seun bybring.

Hulle sou terugbel en om 2:47 is die nuus ontvang dat hy oorlede is.

By die hospitaal in Pretoria, is hulle meegedeel dat Maryke dit ook nie gemaak het nie.

Sy het om 2:00 gesterf.

Hul kinders is oorlede binne ’n driekwartuur van mekaar.

“Toe die telefone so aanhoudend gelui het, het ek soos Job gevoel,” het André ook gesê.

“Hoe kies ’n mens na watter kind om te gaan,” het Jeanette gesê.

“Ons is nie toegelaat om van André afskeid te neem nie weens hopsitaalprotokol,” het ’n verslae ma onthou.

“Ons is wel by Maryke toegelaat.”

Die Trollips is by hul aankoms in Pretoria by die kliniek na ’n kantoor geneem en daarna kon hul afskeid van hul dogter neem.

Maryke Cilliers was ’n lektor by Gert Sibande Kollege op Ermelo en het vroeër ook by die kollege op Standerton gewerk.

Haar seuntjie, CP is drie jaar oud.

“Daardie driejarige sal nooit sy ma ken nie,” het Jeanette gesê wat die nuus aan hom moes oordra.

Maryke laat haar man, Stoffel en seuntjie agter.

André was werksaam as streekbesuurder van ’n gasmaatskappy in Benoni.

Die Trollips het die noue band tussen broer en suster benadruk.

“Dit is asof hulle vir mekaar gewag het,” het een ouer gesê.

André het die taak gehad om die begrafnisondernemer omstreeks 4:00 te skakel, want die hospitaalreëls het bepaal dat die kinders binne drie ure daaruit moes wees.

Die Trollips kon tydens die hospitaalopnames, Maryke een keer ’n week besoek, terwyl geen besoekers by André toegelaat is nie.

Broer en suster is ’n dag na mekaar, 27 en 28 Julie, met die koronavirus gediagnoseer en ’n dag na mekaar, 3 en 4 Augustus, in hospitale opgeneem.

Maryke en André se as sal na Standerton toe kom en ’n gesamentlike diens sal in die N.G. Kerk se Suidgemeente gereël word.

“Ons ander seun, Werner bly in Polokwane en sowel hy as sy vrou, Yolandé en hul drie kinders onderskraag ons geweldig,” het Jeanette gesê.

Die Trollips het die gemeenskap vir die groot ondersteuning uit alle oorde bedank.

“Dit was meer as wat ek gedink het,” het André afgesluit.

“Die dokter het gesê André is ’n ‘real fighter’.

”Hulle het die geveg van hulle lewe verloor.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version