AdvertorialBusinessNews

Hou sojaboonplante gelukkig

Plante is net soos mense en wil gelukkig en gesond wees. Wanneer ‘n plant gelukkig is, sal dit blom, vrugte en saad maak en produseer. As ‘n plant nie gelukkig is nie, sal dit nie produseer nie.

Die geheim van ekonomiese sukes met sojabone lê dus daarin om jou plante gelukkig te hou van plant tot stroop. Deeglike beplanning en bestuur gedurende die groeiseisoen is van kritieke belang om elke moontlike kilogram opbrengs per hektaar te oes.

Kultivarkeuse word allerweë as die eerste stap gesien op die weg na sojasukses. ‘n Goeie opbrengs bly altyd die nommer een drywer as dit by kultivarkeuse kom, maar ander faktore speel net so ‘n groot rol. Hierdie faktore moet in kombinasie met mekaar bestuur word sodat jou opbrengsmikpunte en die kultivar se opbrengspotensiaal bereik kan word.

Een van die belangrike bestuursaspekte wat nie genoeg oorbeklemtoon kan word nie, is praktiese en eie ervaring. Dit is krities dat lande baie gereeld, daagliks indien moontlik, verken moet word. So kan probleme baie gou geïdentifiseer en aangespreek word voordat dit handuit ruk.

Die kultivar wat die beste aangepas is vir ‘n gegewe lokaliteit met proefresultate oor ‘n aantal jare is altyd ‘n veilige keuse. Eie ervaring, eie proewe, proefdata uit die omgewing saam met die Nasionale Sojaboonkultivarproewe van die Landbounavorsingsraad kan saam waardevolle inligting verskaf vir besluitneming.

Daar is verskeie faktore wat kultivarkeuse beïnvloed.

• Groeiseisoenlengte is een van die kritiese aspekte wat aandag moet kry as dit kom by kultivarkeuse. Sojabone is gevoelig vir dagliglengte en kultivars sal later ryp word hoe verder suid dit in Suid-Afrika geplant word. Heersende temperatuur, veral nagtemperature, het ook ‘n invloed op sojabone en daarom groei kultivars stadiger op die Hoëveld vergeleke met die warmer Laeveld of westelike produksiegebiede. As algemene reël word aanvaar dat kultivars met ‘n langer groeiseisoen die beste sal doen in gebiede met ‘n warmer klimaat, medium groeiseisoen kultivars in gebiede met ‘n gematigde klimaat en korter groeiseisoen kultivars in gebiede met ‘n koeler klimaat.

• Die optimale plantdatum van ‘n sojaboonkultivar kan ‘n invloed hê op die kultivarkeuse. Oor die algemeen is die beste planttye vir sojabone vanaf mid-Oktober en in warmer gebiede kan produsente nog tot Desember plant. Wanneer grond- en lugtemperature aanvaarbare vlakke vroeg in die seisoen bereik, word ‘n Oktober-plantdatum, veral op die hoërliggende gebiede, aanbeveel. Sojabone moet verkieslik nie ná mielies geplant word nie, maar eerder voor of saam met die mielies.

• Peul- en planthoogte beïnvloed die stroopbaarheid en die staanvermoë van sojabone en is faktore wat in ag geneem moet word by kultivarkeuse. Relatief kort groeiseisoenkultivars het gewoonlik ‘n laer peul- en planthoogte as langgroeiseisoenkultivars.

• Produksiepraktyke het egter ook ‘n inlvoed op baie van ‘n sojaboon se eienskappe. Nouer tussen- en binneryspasiëring kan veroorsaak dat die peule hoër op die plant voorkom. Kultivars wat geneig is tot sytakvorming en ‘n digte blaredak het, is beter aangepas vir wyer rye, terwyl kultivars met ‘n oop blaredak en min sytakke beter aangepas is by relatief nouer rywydtes.

• Staanvermoë kan beïnvloed word deur die aantal bewolkte dae wat tydens die seisoen voorkom. Dit kan tot gevolg hê dat kultivars wat normaalweg goed staan, hoër groei en dus word die risiko van omval verhoog.

• Kultivars met ‘n bepaalde groeiwyse word verkieslik onder besproeiing geplant, terwyl kultivars met ‘n onbepaalde groeiwyse wat nie lengtegroei tydens blom staak nie, onder droëlandtoestande geplant word.

• Weerstand teen oopspring van peule is ‘n belangrike oorweging by die keuse van ‘n kultivar.

Sensako het verskeie sojaboonkultivars wat wissel in agronomiese eienskappe, volwassenheidsgroeperings en aanpassing by verskillende omgewings. Onafhanklike resultate van die kommersiële strookproewe in samewerking met verskeie studiegroepe en boereverenigings het die uitstekende opbrengsprestasie, aanpassing, stabiliteit en stremmingsweerstand van die wennerkultivars bevestig.

• · SSS 5052 (tuc) is ‘n stabiele en aangepaste hoë opbrengspotensiaal kultivar vir droëland en besproeiing. Dit is ‘n bosagtige maar regop kultivar met goeie omvalweerstand en bied ook goeie weerstand teen oopspring van peule. Hierdie kultivar val in die 5.2 volwassenheidsgroep.

• · SSS 5449 (tuc) is ‘n wenner vir die oostelike Hoëveld. Dit is ‘n semibosagtige kultivar met onbepaalde groeiwyse, uitstekende peulhoogte en omvalweerstand asook goeie weerstand teen oopspring van peule. SSS 5449 val in die 5.5 volwassenheidsgroep.

Die volgende aspekte speel ‘n rol in die bereiking van sojabone se opbrengspotensiaal:

• Plantpopulasies

Plantestand hang af van die kultivar, die omgewing, die grondtipe, bewerkingspraktyke en rywydtes.

Sojabone besit die vermoë om produksie van sytakke en peule te reguleer afhangende van die beskikbare spasie vir ontwikkeling. Sojaboonplante sal teen hoë plantpopulasies meer regop ontwikkel en minder sytakke en peule per plant ontwikkel. Wanneer sojaboonplante teen laer plantpopulasies geplant word, sal dit meer bosagtig ontwikkel met meer sytakke en peule per plant.

Die aanpassing van rywydtes na nouer rye is die een bestuurspraktyk wat opbrengspotensiaal van sojabone drasties kan verhoog. Omdat nouer rywydtes reeds vroeg in die seisoen ‘n blaredak vorm, onderskep dit meer lig en onderdruk dit die opkoms en ontwikkeling van onkruid. As gevolg van die skadu-effek is daar minder verdamping van die grond af.

Volgens Andries Wessels, die produkontwikkelingsbestuurder by Syngenta, is lig op die grond vermorste energie. “Hoewel ons nie altyd beheer oor die son het nie, kan ons deur plantpopulasies te beheer ‘n groter invloed hê op die hoeveelheid plante en blare wat sonlig ontvang vir fotosintese.”

• Bewerking

Sojaboonsaailinge is baie gevoelig vir skade in die tydperk tussen ontkieming en opkoms. Grondbewerkings en plantdiepte het ’n groot invloed op die oorlewing van saailinge. Hoe dieper die saad in die grond geplant word, hoe dunner rek die nek uit om bo die grondoppervlak te kom en hoe meer geleentheid is daar vir skade.

• Onkruidbeheer

Sojabone is baie gevoelig vir sekere onkruiddoders soos atrasien en triketoon, en as daar nie hierop aggeslaan word nie, kan groot skade voorkom. Dit is krities dat die volle wagperiodes nagekom moet word voordat sojabone geplant word, nadat hierdie middels op ‘n land gespuit is. Volg altyd die aanwysings op die onkruiddoderetikette noukeurig.

• Grondgesondheid en bemesting

Die bemestingsprogram moet só uitgewerk word dat ‘n land se opbrengspotensiaal saam met die kultivar se behoefte ekonomies en optimaal bestuur word. Die neem van grond- en blaarmonsters is belangrik om te bepaal watter makro- en of mikro-elemente gedurende die seisoen reggestel moet word. Hoewel sojabone die vermoë het om hul eie stikstof te bind, kan ander makro- en mikrovoedingstowwe wat afwesig is ’n groot invloed op sojabone se opbrengs hê.

Kontak Sensako of jou naaste Sensako-saadmakelaar vir verdere inligting en beskikbaarheid van sojabone, en besoek www.sensako.co.za.

Related Articles

Back to top button