Local newsNews

Jordaans van die AP Kerk op Standerton verhuis

“Ek is ’n trekarbeider en waar die Here my nodig het, gaan ek.”

Ds. Martin Jordaan en sy vrou Betsie, verhuis na ’n tydperk van ses jaar op Standerton na hul nuwe tuiste, Schweizer-Reneke.

Met twee seuns onlangs uit die huis, het ds. Martin die oppak en inpak soos volg opgesom:

“Die lekker deel is dat ek nie hul goed ook hoef te trek nie.”

Die metodiek in AP Kerk-kringe bring mee dat predikante gereeld beroep word om aan die eiesoortige behoeftes in kerkverband te voldoen.

“Ek het tydens ons verblyf drie beroepe gehad,” het hy gesê.

Die mense op dié Noordwes-dorpie is ’n boerderygemeenskap en ook mense uit die delweryomgewing.

Dit sal wel ’n kleiner gemeenskap, maar ’n groter gemeente wees.

“Belydende lidmate op Standerton is 230, terwyl Schweizer 400 lidmate het,” het ds. Martin ook gesê.

Waarmee Betsie, die onderwyser, haarself gaan besig hou, word nie oor getob nie want die moontlikheid van ekstra klasse bestaan ook.

“Die Here sal voorsien,” het hy onomwonde verklaar.

“Ons het lekker gebly en gewerk.

“Elke gemeente het sy eie uitdagings wat die hoof gebied moet word.

“Ek was bevoorreg om die Evangelie vir ses jaar te verkondig.”

Ds. Martin het wel erken dat hul met gemengde gevoelens die dorp verlaat, want enersyds is daar die opgewondenheid vir wat voorlê, maar andersyds die hartseer om van bekendes afskeid te neem.

“Ek is ’n trekarbeider en waar die Here my nodig het, gaan ek.”

Die ontvolking van die platteland, sowel as krimping van gemeentes, het hy toegeskryf aan veral die aantal jongmense wat hul toenemend in die buiteland bevind, en die verstedeliking van joingmense.

“Klein gemeentes het voordele sowel as nadele,” het hy bygevoeg.

“’n Herder in ’n klein gemeente kan makliker sy lidmate bereik, maar so ’n gemeente kan nie ’n predikant trakteer nie.”

Ds. Martin is vas oortuig van die Gereformeerde se Skrifbeskouing en het die leuse van sy alma mater, die Afrikaanse Protestantse Akademie, naamlik nuwe spore op ou weë, sy eie gemaak.

Hy het ter afsluiting die mense van Standerton met bloot ’n seëning gegroet.

“Dat die koninkryk van Christus op Standerton sal kom.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button