Local newsNews

Sendeling in Secunda-omgewing sterf

“Hy het sy lewe toegewy aan die Here en die werk van die Here.”

EVANDER – Mnr. Dirk Bezuidenhout (55) , ‘n jare-lange sendeling op Adullam Sendingstasie is Saterdagaand, 12 Junie, aan Covid-19-verwante oorsake dood.

Hy was op 1 Junie met erge Covid-19-simptome in Evander Hospitaal opgeneem waar hy aanvanklik so verbeter het dat hy op 9 Junie ontslaan is.

Mnr. Bezuidenhout het egter Saterdagoggend ‘n terugslag gehad en gesukkel om asem te kry.

Paramedici van ER24-ambulansdienste het hom te hulp gesnel toe sy vrou, Grace, nie die staatsambulanse in die hande kon kry nie.

Hulle het mnr. Bezuidenhout gestabiliseer en na Evander Hospitaal vervoer waar ‘n dokter sy gesin meegedeel het dat mnr. Bezuidenhout ernstig siek is.

Hy is die aand in die hospitaal oorlede.

Mnr. Bezuidenhout het vir dekades in die omgewing gewoon.

Hy het as jongman by Sasol gewerk, maar die Bezuidenhout-gesin het sowat 25 jaar gelede na die sendingstasie verhuis nadat mnr. Bezuidenhout tot bekering gekom het en hy geroepe gevoel het om voltyds vir die Here te werk.

“Dirk was ‘n nederigste persoon wat ek nog ooit ontmoet het,” het me. Bezuidenhout gesê.

Sy het hom beskryf as liefdevol, vreugdevol, altyd daar as iemand hom nodig gehad het, nooit te moeg om te staan om vir iemand iets te doen nie, nooit te suinig om te help nie.

“Hy het sy lewe toegewy aan die Here en die werk van die Here. Sy hele lewe en hart was om die Here te dien, in sy persoonlike lewe en in sy werk vir die Here,” het me. Bezuidenhout gesê.

“Ons gaan hom verskriklik baie mis.”

Sy het almal wat vir hulle gebid het en bygestaan het sedert haar man siek geword het, bedank.

Mnr. Bezuidenhout laat sy vrou Grace, hul tweeling me. Johan Bezuidenhout en me. Gracie Ball en haar man Jonathan, ‘n kleindogter Lilly, familie, kollegas en vriende agter.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button