Francois Boer van Standerton sterf in hospitaal in Pretoria

Hy het ’n graad as bourekenaarwese by Tukkies verwerf, en na sy studies, sy passie vir bouwerk uitgeleef.

Standerton-gemeenskap het verlede Vrydag nog ‘n besondere mens verloor.

Die bekende sakeman, boukontrakteur en gesinsman, mnr. Francois Boer, het Vrydagoggend 11 Junie aan Covid19-verwante komplikasies beswyk.

Francois het diep spore getrap op Standerton, waar hy grootgeword het.

Hy was hoofseun van Hoërskool Standerton in 1972, en het vir bykans 25 jaar op die beheerliggame van Laerskool Standerton en Hoërskool Standerton gedien.

Francois was ook vir 35 jaar’n diaken in die Nederduits Hervormde Kerk.

Hy het ‘n graad in bourekenaarwese by Tukkies verwerf, en na sy studies, sy passie vir bouwerk uitgeleef.

Francois was ‘n sakeman van formaat en deel van die familie-onderneming, P. Boer (Edms) Bpk, wat deur sy pa, Piet Boer in 1945, gestig is.

Francois en sy broers het gesorg dat die onderneming van krag tot krag gaan en het altyd die beste gehalte siviele bouwerk op Standerton en omliggende gebiede gelewer.

“Hy was ‘n nederige, beskeie man, wat met rotsvaste beginsels die reguit pad geloop het,” het die familie onthou.

Sy passies was sy geloof in God, sy gesin, sy familie, vriende en sy werk.

Francois word oorleef deur sy vrou, Ronel en kinders, Joeline, Pieter, Francois, Mari en hulle gades Impi, Samantha en Paul.

Die familie het veral hul familie, vriende en die mense van Standerton, vir die volgehoue ondersteuning in hierdie hartseertyd, bedank.

“Dit is vir ons ‘n voorreg om deel te wees van Standerton se omgee-gemeenskap,” het hulle gesê.

“Francois gaan voorwaar gemis word deur almal wat hom geken het.

“Soos hy altyd gesê het: “By lewe en welsyn, sien ons mekaar weer!”

Sy gedenkdiens vind op Saterdag 19 Junie om 11:00 by SHS se pawiljoen plaas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version