Estelle Swart word stadig maar seker gesond

Raadslid glo sy sal binnekort ’n skenker vir ’n nier kry.

EVANDER – Me. Estelle Swart (61) kan weer loop, sonder krukke of ‘n kierie.

Dit volg nadat sy weens haar knieë wat probleme gegee het en haar algehele gesondheid, vir vyf maande in ‘n rolstoel was.

Die gemeenskap ken me. Swart as DA-raadslid en iemand wat uitreik in die gemeenskap.

Sy het al talle projekte aangepak waar sy teddiebeertjies vir kinders en handsakke met toiletware in vir slagoffers van verkragting ingesamel het en ook na kankerpasiënte uitgereik het.

Sy het self bilateral nierkanker oorwin en is al vyf jaar in remissie.

Haar een nier en ‘n groot stuk van haar ander nier is in 2016 verwyder toe sy met dié kanker gediagnoseer is.

Sy het net ‘n kwart nier oorgehad wat vir twee jaar 100 persent gefunksioneer het.

Kanker is egter toe in dié klein stukkie nier ook gediagnoseer en in 2018 is die oorblywende stukkie van haar laaste nier ook verwyder.

Me. Swart gaan sedertdien drie keer weekliks vir vier ure na die mediese sentrum op Trichardt waar sy dialise ontvang.

Voordat sy in Oktober verlede jaar in ‘n rolstoel beland het, moes sy met krukke of ‘n kierie oor die weg kom en het vinnig moeg geword.

Sy het in April verlede jaar, in die inperkingstyd, 60 jaar oud geword, maar het dié geleentheid eers in Oktober gevier.

“Ek het by die viering van my verjaarsdag gevoel my bene pyn meer en voel al hoe swakker,” het me. Swart vertel.

“My man het naderhand vir my ‘n rolstoel gekry en ek het die rolstoel al hoe meer gebruik en al hoe minder die huis verlaat.”

Sy moes knievervangings in albei haar knieë kry en behalwe vir die osteoporose in haar bene, veroorsaak die feit dat sy nie niere het nie ook probleme in haar bene.

“Almal by die dialise-sentrum wat nierprobleme het, loop snaaks,” het sy gesê.

Die eerste dokter wat sy in Pretoria oor haar knieë gaan sien het, wou nie opereer nie. Sy het egter ‘n ander dokter gaan sien en hy het dadelik gesê sy sou nooit weer die karretjie waarmee sy by sy spreekkamer ingery het, nodig kry as hy met haar klaar is nie.

Hy het in Februarie vanjaar haar eerste knievervanging gedoen en in April haar tweede.

Me. Swart loop reeds sonder enige hulp en sterk so goed aan dat die personeel by die spreekkamer verstom is.

“Ek is so dankbaar dat ek by ‘n dokter opgeëindig het wat die insig en wysheid het om op my knieë te kon opereer.

“Voor die operasies was my bene bak, want ek het geen kruisligamente gehad nie. Nou is my bene heeltemal reg en ek het geen pyn meer nie.”

Me. Swart kon nog nie op die waglys vir ‘n nieroorplanting kom nie, omdat dit ‘n vereiste is dat ‘n ontvanger van ‘n nier heeltemal kankervry moet wees en minstens vir vyf jaar in remissie moet wees.

Sy gaan in Junie haar nefroloog sien en sal dan besluit wat die pad vorentoe is.

Die waglys vir nieroorplantings in Suid-Afrika is baie lank en as me. Swart vroeër ‘n geskikte skenker kan kry, sal sy graag wil voortgaan met die proses.

Sy werk steeds as DA-raadslid, maar woon tans nie vergaderings by nie omdat die burgermeester, mnr. Nhlakanipho Zuma, haar persoonlik besoek het en gemaan het om eers gesond te word voordat sy weer vergaderings bywoon.

Me. Swart raak steeds vinnig moeg en moet sommige dae vir dialise en fisioterapie gaan, maar as sy by die huis is, doen sy graag naaldwerk en lees ook graag.

Sedert haar niere verwyder is, het haar man, mnr. Koos Swart, al haar verpligtinge in die huis oorgeneem.

“Hy maak kos, hy gaan koop kruideniersware, hy doen alles, hy is ‘n wonderlike man en ek weet nie wat ek sonder hom sou doen nie,” het me. Swart gesê.

Sy het egter as sy bietjie beter voel, so paar keer self kos gemaak.

“Ek keer stadig maar seker terug na normaal.”

Me. Swart het voor die inperkingstyd, by vroue-oggende en geleenthede opgetree en mense vertel hoe dit is om sonder niere te leef.

Enige iemand in die gemeenskap wat hulp of raad nodig het, kan me. Swart skakel by 083 652 7727.

“Ek het nie al die kennis in pag nie, maar ek weet darem so paar dinge daarvan om sonder niere te leef,” het sy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version