Michelle Kukkuk van Standerton se hart gee voorkeur aan Afrika

Michelle het haar na skool by ’n akademie in Potchefstroom met ’n internasionale diploma in die skoonheidsbedryf bemagtig.

‘n Sakevrou van Standerton, me. Michelle Kukkuk, ag haarself bevoorreg.

“Ek is baie gelukkig want ek het twee pa’s,” het Michelle laat blyk.

Pa André, nou afgetree, sit in die dag hand by met die kinders, Ryan (11) en Leché (10) en ds. Henk speel ook ‘n belangrike, ondersteunende rol in haar en haar man, Rikus se lewens.

Michelle het op Middelburg grootgeword en Laerskool Kanonkop en Hoërskool Kanonkop is waar skoolopleiding geskied het.

Sy was slegs in die destydse standerd 3 toe ma Hettie, ‘n spesiale 11de verjaarsdaggeskenk beplan het.

“My ma het my na Illinois en Florida in Amerika vir ses weke geneem en ek het Disney World kon sien,” het sy gesê.

Sy het nie die vaagste benul gehad dat haar paspoort eendag ook met Brittanje gestempel sou wees nie, wat nog te sê van Bangkok, Thailand?

Dié trompoppie was deel van ‘n uitgesoekte span wat Suid-Afrika verteenwoordig het om voor die President van Thailand op te tree. Die tromppoppies is behoorlik gedril.

“Dit is nie net vir stok en vlag swaai nie,” aldus Michelle. “Ons afrigter wat in die weermag was, het ons vroegoggend in die mis van Barberton laat oefen.”

Ma en pa het biltong verkoop want hoewel die vliegkaartjie betaal was, moes sy sakgeld hê.

Michelle het haar na skool by ‘n akademie in Potchefstroom met ‘n internasionale diploma in die skoonheidsbedryf bemagtig.

Rikus en haar paaie het nie gekruis toe albei nog op Middelburg skoolgegaan het nie.

“Ek het wel geweet hy was by Middelburg Tegniese Hoërskool.”

‘n Aand in 2002 wat vriende saam gekuier het, het die deurslag gegee.

Hulle het vyf jaar later op 13 Oktober 2007 op ‘n landgoed trou aan mekaar beloof.

Die jare 2002 tot 2003 het die egpaar in Leyton en Straford in die hoofstad, Londen gewerk en gebly.

Michelle het as ontvangsdame ingestap by ‘n maatskappy wat in die skoonheidsbedryf is en binne ‘n ommesientjie gevorder tot bestuurder en later hoof van menslike hulpbronne.

Rikus het by ‘n internasionale kleinhandelwinkel gewerk.

“Ek het nie besef ons praat Engels met ‘n sekere aksent nie,” het sy ook gesê.

Sy het hul tyd in Engeland as ‘n kultuurontploffing beskryf en die Kukkuks het aanklank by veral die Pole gevind.

Hulle het die oggend van 2005 toe die bomme by Liverpool ontplof het, nie oudergewoonte die bus geneem nie omdat hulle laat was.

“Kom ons vang ‘n taxi,” het Rikus voorgestel.

Die taxi het hul tot by die moltreinstasie geneem en twee stasies daarvandaan later, het die geweld losgebars.

“Ons het gehoor ons moet ontruim en was salig onbewus van wat gebeur het.

“Rikus se ma het uit Suid-Afrika gebel om te hoor of ons veilig was.

“Dit was die stilste wat ek Londen ooit gesien het en as ons betyds was daardie oggend, was ons gewis dood.

“Dit was net die Here se hand.”

In ieder geval, die volgende dag is weer op die trein geklim, maar Michelle se hart het in Afrika gelê en meer spesifiek, Hartenbos.

“Ek het nie my hart daar verloor nie, maar die helfte van my hart is daar,” het sy oor dié kusdorp gesê.

“Ek het destyds vir Rikus gesê, jy moet onthou jy trou met my en Hartenbos.”

Dit is ‘n familietradisie dat die families in Desember suide toe gaan vir vakansie.

Michelle het ruiterlik erken dat sy Rikus se raad vooropstel.

“Nee Michelle, jy moet daardie kant toe.”

Watter kant toe ook al, dié sakevrou glo Suid-Afrikaners is uniek.

“Ons is entoesiasties en bereid om te werk,” het sy mee afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version