Venters verloor alles in huisbrand op Bethal

Vyf mense word betyds wakker tydens huisbrand.

BETHAL – Die Venter-gesin het op Saterdag, 17 April, al hulle besittings verloor nadat die huurhuis waarin hulle gewoon het, gebrand het.

Die gesin het net bietjie meer as ‘n maand gelede vanaf Middelburg na Bethal verhuis om Build It op Bethal oor te neem.

Volgens mnr. Jaco Venter het die hele gesin, asook ‘n man wat by hulle gewoon het, ‘n middagslapie geneem toe hulle weens ‘n harde slag wakker geword het en gesien het die sitkamer brand.

Mnr. Adriaan Lindeque, wat ook in die huis gewoon het, het wakker geword en mnr. Venter gaan roep.

“Ek het na die sitkamer gegaan om te kyk wat gaan aan terwyl my vrou die kinders wakker gemaak het en uit gevat het,” het mnr. Venter gesê.

“Toe ek opgestaan het, was die brand reeds in die kombuis wat tussen die sitkamer en ons slaapkamers is.”

Bure het die brandweer geskakel en hulle het die brand gaan blus.

Die enigste besitting van die gesin wat gered kon word, was ‘n wasmasjien.

Al hul ander besittings is in puin gelê.

Die oorblyfsels van die Venter-gesin se huurhuis op Bethal. (Foto: Verskaf)

Mnr. Venter het gesê die huis en alles daarin was binne 10 minute verwoes.

Volgens hom het die huis se plafon eerste begin brand en hulle is nog nie seker wat die brand veroorsaak het nie.

Hulle het Saterdagaand by vriende op Middelburg gaan slaap.

Hulle kyk reeds uit vir ‘n nuwe huurhuis en woon vir die week in ‘n gastehuis op Bethal.

“Mense het ons geskakel en gesê hulle gaan ons help, maar ons weet nog nie wat gaan ons by wie kry nie,” het mnr. Venter gesê.

Sy kinders, Abigail (7) en Jandré (4), is in Laerskool Marietjie van Niekerk in gr. 1 en in die kleuterskool. Sy vrou, me. Jean-Mari Venter, werk ook by Built It.

Die egpaar was teen Maandag weer terug by die werk en die kinders terug in die skool.

As jy die gesin wil ondersteun, skakel me. Venter se ma, me. Ceska van Huyssteen by 084 235 3796.

Die Venter-gesin se huurhuis is op Saterdag, 17 April in ligte laaie. (Foto: Verskaf)
Die Venter-gesin se huurhuis is op Saterdag, 17 April in ligte laaie. (Foto: Verskaf)

Die oorblyfsels van die Venter-gesin se huurhuis op Bethal. (Foto: Verskaf)
Die oorblyfsels van die Venter-gesin se huurhuis op Bethal. (Foto: Verskaf)

 

Exit mobile version