OPVOLG: 13-jarige van Bethal verloor stryd teen sistiese fibrose

Lizette Neveling is vanmiddag, 21 April, in die hospitaal dood.

Lizette Neveling (13), is vanmiddag, 21 April, omstreeks 2.30nm in die hospitaal dood.

Sy het sedert haar geboorte aan sistiese fibrose gely en was permanent aan ‘n asemhalingsmasjien gekoppel.

Sy het ‘n terugslag gehad en is drie weke gelede in die hospitaal opgeneem nadat sy gesukkel het om asem te haal.

Volgens haar ouma, me. Johanna Lombard, het haar hart gaan staan.

Die gesin gaan môre begin om Lizette se begrafnisreëlings te tref.


Jong SF-lyer van Bethal weer in hospitaal

BETHAL – Lizette Neveling (13), wat aan sistiese fibrose ly, is in die begin van April in die hospitaal opgeneem omdat sy gesukkel het om asem te haal.

Sy is met dié siekte gebore en dokters en verpleegpersoneel het nie gedink sy gaan dit dié keer maak nadat sy in die hospitaal opgeneem is nie.

Lizette was eers in Johannesburg se Charlotte Maxeke Hospitaal, maar sy is oorgeplaas na die Nelson Mandela Hospitaal nadat daar op Saterdag, 17 April ‘n brand by die Charlotte Maxeke Hospitaal uitgebreek het.

Lizette was, voordat sy dié terugslag beleef het, permanent aan ‘n asemhalingsmasjien gekoppel.

Haar gesin het drie maande gelede vanaf Bethal na ‘n plaas naby Walkerville verhuis omdat die krag in Bethal so baie af is en hulle dan sukkel met Lizette se asemhalingsmasjien.

‘n Onderneming op Bethal het brandstof vir die gesin se kragopwekker geborg, sodat Lizette steeds haar asemhalingsmasjien kon gebruik het al is die krag af, maar dié onderneming het hul borgskap verlede jaar gekanseleer en dit het die gesin genoop om te verhuis.

“Dit is beter, hulle is nou ook nader aan die hospitale in Johannesburg as daar iets gebeur met Zettie,” het haar ouma, me. Johanna Lombard gesê.

Sy het die afgelope 17 dae, sedert Lizette in die hospitaal opgeneem is, bedags by haar bed gewaak en Lizette se ma, me. Louise Neveling, snags.

“Haar longe is weg, maar sy is ‘n sterk kind.

“Sy het die afgelope weke vir haar lewe baklei daar in die hospitaal,” het me. Lombard gesê.

‘n Facebook-gebruiker het glo Lizette se foto gebruik om geld vir eie gewin in te samel.

“Nou gee mense vir daardie persoon geld terwyl Zettie vir haar lewe in die hospitaal veg.

“Ons het mense nog nooit vir geld of kruideniersware gevra nie, net vir brandstof vir die kragopwekker of om mee hospitaal toe te ry,” het me. Lombard gesê.

Lizette se long is erg beskadig weens haar siekte en volgens haar ouma vererger lyers van dié siekte gewoonlik soos wat hulle ouer word.

Dié jong vegertjie is nog te jonk en te maer om nou al ‘n longoorplanting te kry.

Die familie het onlangs ‘n lening by die bank gemaak om vir Lizette ‘n nuwe asemhalingsmasjien, wat sowat R23 000 gekos het, aan te skaf.

Die dokter sal egter eers moet kyk as sy vanuit die hospitaal ontslaan word, of dié asemhalingsmasjien vir haar gaan werk.

“Die masjien moet gestel word en dit hang van Zettie se longkapasiteit af of die masjien gaan werk of nie.

“As dit nie werk nie, gaan ons maar probeer om hom weer te verkoop,” het me. Lombard gesê.

Lizette is tans op ‘n hoë vloei-suurstof van 16l gekoppel.

Die suurstof wat sy voorheen gebruik het, was 5l.

Me. Lombard het almal wat die gesin ondersteun en almal wat vir Lizette gebid het, bedank.

As jy die gesin wil ondersteun, skakel me. Lombard by 067 147 5710.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version