Local newsNews

Onnie en rugbyafrigter van Laerskool Goedehoop op Secunda tree af

Rustige aftrede wink vir Solly Janse van Rensburg.

SECUNDA – Mnr. Solly Janse van Rensburg, ‘n legende onder Laerskool Goedehoop se leerders en personeel, het dié skool na 29 jaar gegroet.

Me. Juanita Fourie, skakelbeampte by Laerskool Goedehoop, het gesê mnr. Janse van Rensburg is vir jare beskou as een van die beste onderwysers in sy vakgebied op die Hoëveld met jare se ondervinding van kennisoordrag.

Hy het homself bekwaam as sportafrigter en veral in rugby belanggestel.

“Hy was ‘n kranige Cravenweek-rugbyafrigter en Springbokke soos Bakkie Botha en Danie Rossouw is sedert hul kinderdae deur hom gevorm,” het me. Fourie gesê.

Mnr. Janse van Rensburg het as voorsitter op die Mpumalanga Rugbyvereniging gedien.

“As afrigter was hy nie net gefokus op leerders wat sterk na vore getree het nie, hy het altyd baklei om plek te maak vir die kinders wat nog moet ontwikkel.

“Geen kind was vir hom nie belangrik genoeg om afgerig te word nie, almal was gelyk in sy oë.”

Goedehoop-personeel en leerders het mnr. Janse van Rensburg leer ken as iemand met baie deernis vir kinders wat geen grysgebiede het nie.

“Sy ja is ja en sy nee is nee,” het me. Fourie gesê.

“Dit is ‘n teken van sy sterk karakter wat hom nie deur invloede van buite laat onderkry het nie. Kinders wat hom regtig leer ken het, het besef mnr. Solly het ‘n omgee-hart soos min.

“Hy was altyd bereid om te ondersteun en daar waar ‘n traan loop, dit af te vee.

“Hy was ‘n gewilde kollega en vriend onder personeel en iemand wat altyd, ongeag omstandighede, mense sal help in nood.

“Vir vele jong personeel was hy nie net ‘n mentor nie maar ook ‘n pa by die skool.

“Kwaai wanneer die werk nie reg is nie, maar ondersteunend en liefdevol.”

Goedehoop-personeel sal mnr. Janse van Rensburg onthou as ‘n Christen wat altyd ‘n voorbeeld vir ander was en sy sterk geloof gewys het in alle omstandighede.

“Hy sal defnitief ‘n groot leemte agterlaat en hy sal gemis word deur sy Goedehoop-familie.

“Sy nalatenskap sal egter voortleef in die persone in wie se lewens hy ‘n verskil gemaak het.”

Mnr. Janse van Rensburg, wil, noudat hy afgetree het, meer tyd saam met sy vrou, me. Talita Janse van Rensburg, hul drie seuns en kleinkinders bestee.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button