Twee vroue neem bestuur van ouetehuis op Standerton oor

Na slegs ’n week het die vroue inligting ingesamel en afsonderlik vergader met die kombuispersoeneel, spyseniers, kontrakteurs, van die personeel en lewensreghouers om hul verwagtinge eerstehands aan te hoor.

Twee vroue by die Kosmos Aftree-oord op Standerton kon onomwonde verklaar dat hul ‘n inwonergesentreerde benadering gaan volg.

“Dit is hulle huis en dit moet voel soos hulle huis,” het dr. Mollie Lyons laat blyk.

Geskoei akademies in verskillende studierigtings, gaan die pos van bestuurder deur twee mense teen dieselfde koste behartig word.

Dr. Lyons sal Maandae, Dinsdae en ‘n gedeelte van Woensdae beskikbaar wees en me. Sanpat Coetzee op Woensdae, Donderdae, Vrydae en Saterdae.

“Dit moet naatloos aan die volgende bestuurder oorhandig word,” het dr. Lyons gesê.

Haar praktyk as bedryfsielkundige is steeds aan die gang. Albei is vas oortuig van die doeltreffendheid van ‘n spanbenadering.

Dr. Lyons het dié gemeenskapsinstelling as kompleks beskryf met stelsels en protokolle wat in plek moet wees.

“Ons wil ‘n stelsel agterlaat wat maklik bestuurbaar is,” het me. Coetzee gesê.

Me. Coetzee se agtergrond by die Universiteit van Johannesburg waar sy in 2005 die eerste vrou was wat as direkteur van sport aangestel is, mag moontlik ie nuwe hoofstuk in haar lewe inlui.

Hulle het mekaar by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit ontmoet, saam gedraf en gesamentlik 12 grade agter hul name opgestapel.

‘n Rekenaaranalogie is gebruik om hul rolle by die ouetehuis te verduidelik, Sanpat is die hardeware en Mollie die sagteware.

Sanpat is die strateeg, terwyl Mollie die kultuur en klimaat van die tehuis sal vooropstel.

“Ons beoog om ritme te skep,” het Mollie ook gesê.

Albei is van mening dat ‘n aftree-oord op ‘n dorp nie sonder sy gemeenskap kan funksioneer nie.

Die ouetehuis huisves 101 inwoners en die siekeboeg het ‘n kapasiteit van 70.

“Ons wil op ‘n holistiese wyse hande vat met die gemeenskap,” het Sanpat ook gesê.

Die waardevolle insette van vrywilligers kan ook nie oor die hoof gesien word nie.

“Ons maak staat op die ondersteuning van die direksie, personeel, inwoners en gemeenskap,” aldus Sanpat.

Vir diegene wat wonder oor die oorsprong van haar naam, was ‘n onderwyser op laerskool deels verantwoordelik na die probleem van drie Susannas in haar klas, en haar pa se Sanpatat het Sanpat geword.

Na slegs ‘n week, het die vroue inligting ingesamel en afsonderlik vergader met die kombuispersoneel, spyseniers, kontrakteurs, van die personeel en lewensreghouers om hul verwagtinge eerstehands aan te hoor.Die verpleegpersoneel sou op Donderdag 9 April in drie groepe ontmoet word, terwyl ‘n inwonersvergadering twee dae later sou plaasvind.

Die impak van Covid-19 op die tehuis en gepaardgaande finansiële druk, is ook onder die loep geneem en die welwillendheid wat beleef word, het Mollie uitgestippel.

“Ons wil ook van die kundigheid in die oord gebruik maak,” aldus Mollie.

‘n Vaardigheidsopname word in die vooruitsig gestel wat drieledige voordele inhou, naamlik ‘n inwoner kan ‘n sinvolle bydrae lewer, besig bly en dis koste-effektief.

“Ons beplan om Kosmos Aftree-oord die voorkeur-tehuis in suid-oostelike Mpumalanga te maak,” is mee afgesluit.

Exit mobile version