Local newsNews

Jongman bykans dood na ongeluk op Secunda

Enjin val op Arno se kop tydens ongeluk.

SECUNDA – ‘n Ongeluk op Vrydag, 26 Februarie het mnr. Arno Potgieter (22) se lewe onherroepelik verander.

Hy het in Helen Josephstraat gery toe die ongeluk gebeur het en ‘n ander voertuig teen sy bakkie vasgery het en hom aan die kant getref het.

Mnr. Potgieter is uit sy bakkie geslinger en ‘n deel van die bakkie se enjin het op sy kop geval.

Werkers van ‘n wegneemete-plek het gehardloop en gehelp om hom onder die engin uit te kry.

Volgens sy pa, mnr. Steven Potgieter, het sy seun sy nek gebreek en ná vele oorplasings na verskeie staatshospitale, sal mnr. Potgieter (jnr.) nou rehabilitasie moet ontvang.

Hy het nie ‘n mediese fonds nie en mnr. Potgieter (snr.) het gesê hy sal sy huis moet inrig om sy seun te akkommodeer.

Mnr. Potgieter (jnr.) is eers in Evander Hospitaal opgeneem en later na Ermelo Hospitaal oorgeplaas waar hy vir ‘n skandering moes gaan voordat hy na Evander teruggeneem is.

Mediese personeel by dié hospitaal het glo sy nekstut afgehaal terwyl sy nek steeds gebreek was.

Hy is later weer na Rob Ferreira Hospitaal in Nelspruit oorgeplaas omdat hy ‘n nekoperasie moes ondergaan.

Mnr. Potgieter (snr.) het gesê sy seun moes toe vir langer as ‘n week in die intensiewe sorg-eenheid van die hospitaal lê om te herstel.

Hy is hierna na Heidelberg Hospitaal oorgeplaas waar hy steeds lê.

Verpleegpersoneel het twee weke gelede gekyk of mnr. Potgieter (jnr.) kan regop sit.

Hy het egter flou geraak en ‘n terugslag gehad.

Mnr. Potgieter (snr.) kan weens die Covid-19 reëls en regulasies, sy seun daagliks net vir ‘n halfuur sien.

Hy en sy vrou, me. Sonika Potgieter, glo hul seun is sedert sy geboorte eintlik ‘n wonderwerk van die Here, omdat hy as baba erge epileptiese aanvalle gekry het.

“Dit was so erg dat sy hart al ‘n paar keer gaan staan het,” het mnr. Potgieter (snr.) vertel.

“Dit het so aangegaan totdat hy twee jaar oud geword het, toe het ons hom gevat vir gebed en sedertdien kon ons hom van die epilepsie-medisyne afhaal en het hy nog nooit weer ‘n aanval gekry nie.”

Mnr. Potgieter (jnr.) was 10 jaar oud toe hy in ‘n ongeluk op ‘n vierwielmotorfiets’n ernstige besering in sy gesig opgedoen.

Hy het vir twee weke in die hospitaal bly.

As 17-jarige was hy op skool geboelie om vir ander leerders dwelms te koop.

“As hy nie vir hulle dwelms wou koop nie, het hulle hom met ‘n sigaretaansteker gebrand,” het mnr. Potgieter (snr.) vertel.

“Ek en my vrou het albei voltyds gewerk en nie agtergekom hoe Arno geboelie word nie. Hy het naderhand self dwelms begin gebruik.”

Mnr. Potgieter (jnr.) het in dié tyd probeer selfmoord pleeg en me. Potgieter het haar werk gelos om meer aandag aan hom te gee.

Sy het hom na ‘n sielkundige vir toetse en evaluering geneem.

Volgens die uitslae, was mnr. Potgieter (jnr) in die verkeerde skool geplaas.

“Volgens die verslag moes hy in ‘n tegniese skool gewees het en nie ‘n akademiese skool nie.

“Die sielkundige het gesê Arno is baie goed met sy hande en ons het besluit om hom uit die skool te haal en werk in en om die huis te laat doen.”

Mnr. Potgieter (jnr.) het voor sy ongeluk vir ‘n onderneming op Secunda gewerk en goed gevaar.

“Hy is ‘n geliefde en nederige kind en help altyd waar hy kan.

“Hy wil altyd net met sy hande besig wees en dit is vir ons so hartseer dat hy nou miskien nie meer sy hande of bene sal kan gebruik nie.

“Sy hande was altyd stukkend van al die harde, fisiese werk.

“Nou is dit so sag en skoon na langer as ‘n maand in die hospitaal.”

Mnr. Potgieter (jnr.) is steeds in Heidelberg Hospitaal en verpleegpersoneel laat hom daagliks regop sit, maar hy kan net vir 30 sekondes regop sit dan begin hy duislig raak. Mnr Potgieter (snr.) het op die webwerf, backabuddy, vir sy seun ‘n profiel geskep om geld in te samel vir sy herstelproses en om vir hom verdere mediese hulp en nasorg te kan reël.

As jy mnr. Potgieter wil ondersteun, besoek die webwerf https://www.backabuddy.co.za/arno-potgieter-medical of skakel hom by 079 762 5016.

Mnr. Arno Potgiter het sy nek gebreek in ’n ongeluk op Secunda. (Foto: Verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button