Local newsNews

Oud Secunda-inwoner durf reuse staptog aan deur Afrika

Volg avontuurier se reis op sosiale media.

SECUNDA – ‘n Daaglikse 8vm tot 5nm-werk is nie vir mnr. Johann van Coller (32), oud Secunda-inwoner, nie.

Hy het einde verlede jaar besluit om uit sy voltydse werk by Koeberg Kragstasie te bedank en ‘n perd van ‘n ander kleur opgsaal.

Mnr. Van Coller het op 31 Januarie vanuit Kaap Agulhas, waar die Indiesie- en Atlantiese oseane mekaar ontmoet, vertrek om ‘n staptog van duisende kilometers na die Kilimanjaro Berg, aan te pak.

Dié adrenalienverslaafde het sy navorsing gedoen en selfs ‘n dieëtkundige om te hoor watse kos hy tydens sy staptog moet eet om gesond te bly.

Hy geniet dit om enige sportsoort wat waaghalsig is, soos valskermspring en rotsklim, te doen.

Hy het, sedert hy vanuit sy werk as QC (kwaliteitskontroleerder) bedank het, begin voorberei en oefen vir die staptog.

Mnr. Van Coller se droom is eintlik om vanaf die mees suidelikste punt in die wêreld na die mees noordelikste punt te stap en die staptog wat hy nou aanpak, is vir voorbereiding.

Volgens sy beplanning, behoort sy huidige staptog sowat agt maande te neem en hy deel daagliks sy ervaringe op Facebook en Instagram onder die naam Barefootmagicman.

Volgens sy ma me. Madeleine de Villiers, maak hy vriende orals waar hy gaan.

Hy stap met ‘n rugsak en tent op sy rug en slaan sy tent op waar hy kom teen sononder of somtyds bied ‘n barmhartige Samaritaan vir hom blyplek en kos aan.

Hy doen ook avontuurlustige sportsoorte terwyl hy stap, as die geleentheid hom voordoen.

“Johann was nog altyd ‘n swerwer en vol lewe,” het sy ma gesê.

“Hy het nog altyd anders oor die lewe gedink as die meeste mense.”

Me. De Villiers het erken, sy is soms bekommerd oor haar seun, maar die daaglikse terugvoer wat hy gee, help darem bietjie met haar gemoedsrus.

“So rukkie terug, het hy niks gedeel op sosiale media nie en ons kon hom nie in die hande kry nie, toe was ek baie bekommerd, maar hy het toe later geskakel en gesê sy foon was pap en hy was nie naby ‘n kragpunt om hom te laai nie,” het me. De Villiers vertel.

Mnr. Van Coller se pad met dwelmverslawing toe hy op hoërskool was, en die feit dat hy dié euwel oorwin het, het hom genoop om anders na die lewe te kyk.

“Hy sê altyd die lewe is te kort, mens moet iets nou doen, nie later nie,” het me. De Villiers gesê.

Hy het tydens sy hoërskooljare vir rukke op Secunda gebly toe hy aan heroine verslaaf was en het later die skool verlaat.

Hy het egter later, nadat hy die dwelms gelos het, sy gr. 10, 11- en 12-jaar in een jaar voltooi voordat hy werk by ‘n kontrakteur op Sasol gekry het en homself later opgewerk het tot kwaliteitskontroleerder.

Mnr. Van Coller het Secunda later vir Kaapstad verruil waar hy, terwyl hy by Koeberg gewerk het, ook sy eie onderneming wat drukwerk en grafiese ontwerpwerk doen, begin het.

Sy staptog sal hom oor die volgende paar maande deur Durban, Zimbabwe, Mosambiek, Malawi en dan Nairobi neem.

Hy beplan ook om dan Kilimanjaro Berg te klim tot by die eerste basis.

Op dag 27 het mnr. Van Coller geskryf, dat hy wakker geword het met sy tent wat oorspoel was en dat dit nie die beste manier was om wakker te word nie, maar dinge kon erger wees.

Volg mnr. Van Coller se reis op Facebook of Instagram onder Barefootmagicman.

Mnr. Johann van Coller geniet ’n avontuur tydens sy staptog. (Foto: Facebook)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button