Local newsNews

Morgenzon gaan by die dag agteruit

Die vragmotorbestuurders, wat steenkool na Majuba Kragstasie vervoer, maak van dié roete gebruik omdat dit volgens hom, die kortste roete is en ook geen tolgeld behels nie.

Selfs oordrywing oor Morgenzon se verval, sal nie van jou ‘n leuenaar maak nie.

Bogenoemde is die geparafraseerde woorde van mnr. Corné van Dijk, ‘n sakeman van ons buurdorp.

“Vragmotors op die paaie vernietig die dorp onherstelbaar,” het hy op Donderdag, 11 Maart gesê. “Dit is absolute chaos.”

Die toestand van dié pad met swaar verkeer wat Morgenzon daagliks ondervind. (Foto: Verskaf).

Sanral werk tans aan die R35 en herlei die vragmotors deur die dorp.

Die skuld word vierkantig op die skouers van vragmotorbestuurders geplaas.

“Die teerpaaie kan nie die ladings dra nie, wat nou te sê van die grondpaaie op Morgenzon?”

Sakelui, inwoners en ‘n wykraadslid was teenwoordig op Woensdag 10 Maart toe ‘n vergadering met ‘n kontrakteur van Sanral gereël is.

“Ons het geëis dat Sanral die vragmotors ‘reroute’,” het mnr. Van Dijk ook gesê.

Volgens hom, het die kontrakteur gesê dat dit onmoontlik sou wees.

Morgenzon se paaie word onherstelbaar beskadig. (Foto: Verskaf)

Die afvaardiging van Morgenzonners het volgehou dat dit wel by ‘n vorige geleentheid die geval was.

Volgens die sakeman, is die gemeenskap dit eens dat vragmotors geen eknomiese inspuiting vir die dorp meebring nie.

Die vragmotorbestuurders wat steenkool na Majuba Kragstasie vervoer, maak van dié roete gebruik omdat dit volgens hom, die kortste roete is en ook geen tolgeld behels nie.

Vragmotorbestuurders ry deur Morgenzon se woongebied. (Foto: Verskaf)

Mnr. Van Dijk het bygevoeg dat die swart gemeenskap wat by die vergadering verteenwoordig was, geen doekies omgedraai het nie.

Hulle wil met alle mag die vragmotors uit die dorp hê.

Volgens hom, is daar ook in die verlede met die Lekwa Munisipaliteit in verbinding getree om ‘n verkeerskonstabel op die dorp te plaas, sonder sukses.

Van die grondpaaie, wat munisipale eiendom is, het inmekaar gesak en die dreineringstelsel is onder druk.

“Morgenzon is nie bedoel om sulke verkeer te dra nie.”

Die stormwaterstelsel op Morgenzon is onder druk. (Foto: Verskaf)

Die riool- en stormwaterstelsel word vernietig as dit reën en paaie en mense se erwe is onder water.

Die Standerton Advertiser het by meer as een geleentheid die kwessie aan die groot klok gehang.

‘n Slaggat in Februasie verlede jaar by die kruising van De Jager- en Steynstraat het skade aan verskeie voertuie veroorsaak.

Volgens inligting, was die gat sowat ‘n halfmeter diep.

Die munisipaliteit het in Januarie verlede jaar die gat met gruis toegegooi, maar na drie dae het ‘n slaggat reeds weer begin vorm.

‘n Vragmotorbestuurder was destyds van mening dat die brandstofheffing en lisensiegeld vir vragmotors aangewend moet word om paaie te onderhou.

In April 2019 het die spoor van verwoesting ook publisiteit geniet.

Mnr. Van Dijk het toe gesê paaie word beskadig, vragmotorbestuurders bestuur wetteloos en parkeer goedsmoeds waar hulle wil en sypaadjies en stormwaterstelsels bly in die slag.

Dié sentiment is op Donderdag 11 Maart herhaal.

Volgens hom, ry die Morgenzon Polisie net van tyd tot tyd ongestoord verby.

Na ’n reënbui, is bestuurders in ’n penarie. (Foto: Verskaf)

Die koerant het op Vrydag 12 Maart ‘n e-pos na die Sanral-hoofkantoor gestuur waarin die dringendheid van die kwessie onderstreep is, asook die gepaardgaande probleme op Morgenzon.

Mnr. Muso Kubheka, DA-raadslid, het by navraag gesê dat hy nie die vergadering met die kontrakteur van Sanral bygewoon het nie, maar het wel bevestig dat die gemeenskap gefrustreerd is.

‘n WhatsApp-boodskap is ook op Vrydag na me. Thobeka Mtshiselwa, kommunikasiebestuurder van die munisipaliteit, gestuur waar gevra is of Sanral en Lekwa al vergader het oor die toestand op Morgenzon en of enige oplossings bereik is. Lesers sal op hoogte van verwikkelinge gehou word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button