VIDEO – Trekkerbestuurder se liggaam gevind na hy brug probeer oorsteek en in Vaalrivier (Morgenzon-gebied) beland

"Die strome was redelik sterk en weens die feit dat dit die Vaalrivier is, was die soekarea baie groot," het mnr. Lee gesê.

Verskeie reddingspanne is op 19 Februarie na ‘n verdrinking by die Vaalrivier in die Morgenzon-gebied ontbied.

Na wat verneem word van mnr. Andries Lee van Delta 1 Rescue Diving, het ‘n trekkerbestuurder die rivier glo probeer oorsteek, maar het in die proses saam met die trekker in die water beland.

Delta 1 Rescue Diving, Mpumalanga Binnelandse Waterpolisiëring, Lydenburg K9 Soek- en reddingspanne asook die Middelburg K9 Soek- en reddingspanne was op 19 Februarie op die toneel waar ‘n man moontlik verdrink het. (Foto + Video: Verskaf)

Reddingswerkers het die trekker nagegaan en uit die rivier gelig om te sien of die man nie dalk vasgepen was nie, maar geen liggaam is gevind nie.

Die gebied is ook gefynkam, maar daar was geen spoor van die man nie.

Delta 1 Rescue & Diving, Mpumalanga Binnelandse Waterpolisiëring, Lydenburg K9 Soek- en reddingspanne, asook die Middelburg K9 Soek- en reddingspanne was op die toneel.

“Die strome was redelik sterk en weens die feit dat dit die Vaalrivier is, was die soekarea baie groot,” het mnr. Lee gesê.

“Ons was op ’n stadium op bystand siende die gemeenskap die rivier daagliks vir ons nagegaan het, maar reën het ook die soekaktiwiteite belemmer.”

Volgens mnr. Lee het hulle op 23 Februarie die soektog hervat nadat ‘n hond van die K9 Soek- en reddingspanne op twee gebiede reageer het.

Die man se liggaam is dieselfde dag deur Sers Tinalia Meiring en haar K9-snuffelhond, Dona, van die Lydenburg K9 Soek- en reddingspanne, gevind.

‘n Opvolg-berig met die mees onlangse nuus sal gedoen word vir die volgende uitgawe.

Exit mobile version