CrimeNews

Coetzee-gesin van Standerton kry nie afsluiting na seun se dood

Die Standerton Advertiser het ’n e-pos aan die polisie gestuur en ’n afskrif van die e-pos persoonlik aan die kommunikasiebeampte van die Standerton Polisie, adj.-off Nkosinathi Khanyile, oorhandig.

Die tref-en-trapongeluk waarin hul seun, mnr. Ju-Adrian Coetzee oorlede is, spook steeds by die Coetzee-gesin.

Die Coetzee-egpaar het hul ongelukkigheid aan die Standerton Advertiser bekendgemaak oor die wyse waarop die saak ondersoek is.

Mnr. Coetzee (jnr) het die aand van 13 Junie verlede jaar op die Secunda-pad gestap nadat sy motor onklaar geraak het. Digby Heymans Kole is hy raakgery.

Volgens inligting, het die motorbestuurder gestop, maar weggery nadat veiligheidsbeamptes van Heymans Kole hulle na die toneel gehaas het.

Die motorbestuurder het, volgens inligting, eers ‘n saak die daaropvolgende Maandag by die Standerton Polisie oopgemaak en ‘n verklaring afgelê.

Volgens die pa, mnr. Vernon Coetzee, is ‘n forensiese ondersoek op Sondag 14 Junie gedoen.

Die Standerton Advertiser het ‘n e-pos aan die polisie gestuur en ‘n afskrif van die e-pos persoonlik aan die kommunikasiebeampte van die Standerton Polisie, adj.-off Nkosinathi Khanyile, oorhandig.

Vrae is gerig oor die ondersoek en ‘n afspraak is daarna by die Standerton Polisie gemaak.

Mnr. Coetzee (snr) het gesê dat die polisie aanvanklik baie behulpsaam was, maar dat die ondersoekbeampte sedertdien bedank het.

Adj.-off. Khanyile het op Woensdag 10 Februarie aangedui dat hy die Coetzee’s, tydens hul besoek aan die polisiestasie, na die hoof van die speurafdeling, lt.-kol. Thamisanqa Mkhaliphi, verwys het en dat hul daarna aangedui het dat hul tevrede was.

Hy het ook gesê dat die ondersoekbeampte nie bedank het nie.

Die kommunikasiebeampte het bygevoeg dat hulle welkom is om weer met lt.-kol. Mkhaliphi in verbinding te tree as daar ontevredenheid bestaan.

“‘n Saak van strafbare manslag is geopen,” het hy ook gesê.

Die verdagte het op 12 Januarie in die Standerton Landdroshof verskyn.

Adj.-off. Khanyile het voorgestel dat die Coetzee’s weer ‘n afspraak met die polisie maak. Die koerant het op Woensdag 17 Februarie met mnr. Coetzee gepraat wat versoek het dat die joernalis teenwoordig by ‘n vergadering sal wees.

Mnr. Coetzee het ook gesê dat daar in sy seun se beursie, wat R4 000 moes ingehad het, slegs R170 oorgebly het.

Hy was daardie nag op die ongelukstoneel en volgens hom, het die oorledene die oggend geld getrek.

“Ek is stukkend en seer, my kind is dood,” het hy mee afgesluit. ‘n Afspraak sal so gou moontlik met lt.-kol. Mkhaliphi gemaak word.

Related Articles

Back to top button