Local newsNews

Seun van Secunda verdrink in bad na epileptiese aanval

Ma en ouma wil mense maan om kinders wat aan epilepsie ly, dop te hou.

SECUNDA – Leezadewin Swarts (10) het op Woensdag, 17 Februarie, in die bad verdrink.

Volgens sy ma, me. Stacey Swarts (33), was Leezadewin ‘n epilepsielyer en hy het ‘n epileptiese aanval gekry terwyl hy in die bad was.

“Hy het vir homself water in die bad getap soos wat hy elke aand gedoen het,” het me. Swarts vertel.

“Hy het in die bad geklim en gespeel in die bad en ek en sy ouma het, soos altyd, kort-kort gaan kyk of hy ok is.”

Toe me. Swarts later weer by die badkamer inloer, het Leezadewin met sy gesig na onder, in die bad gelê.

Me. Swarts het dadelik haar ma, me. Shirley Coetzee, geroep en haar man, mnr. Deon Coetzee het vir Leezadewin uit die water gehaal en op die bed neergelê terwyl me. Coetzee die nooddienste geskakel het.

Mnr. Coetzee het mond-tot-mond asemhaling op Leezadewin toegepad totdat die nooddienste opgedaag het.

“Die paramedici het alles probeer, maar niks wou werk nie.

“Hulle het gesê dis verby, hulle kan niks verder doen nie.”

Leezadewin het al vandat hy drie maande oud is, epileptiese aanvalle begin kry.

Me. Swarts en me. Coetzee wil mense wat kinders het wat gereeld epileptiese aanvalle kry, waarsku om nooit hul kinders alleen naby water te laat nie.

“My vrees was altyd dat my kind by die skool by trappe sou afval, want hy was ‘n woelige mannetjie,” het me. Swarts gesê.

“Hou jou oë heeltyd op jou kind as hy ‘n epilepsie-lyer is.”

Me. Coetzee het gesê kinders soos Leezadewin benodig spesiale aandag.

Leezadewin Swarts (10) het op Woensdag, 17 Februarie, in die bad verdrink na ‘n epileptiese aanval. (Foto: Verskaf)

“Ons het nie die ondervinding gehad om met ‘n kind soos Leezadewin te werk nie,” het me. Coetzee gesê.

Me. Swarts berus daarby dat almal geleen is om op aarde te wees.

“Leezadewin was baie lewendig en hy was lief vir mense.

“Hy het graag kerkliedjies gesing en ‘gepreek’ en Bybel gelees op sy manier.

Leezadewin het aandag-afleibaarheid gehad en was in die spesiale klas in Laerskool Secunda.

Hy het verlede week by Laerskool Secunda begin skoolgaan nadat me. Coetzee gesukkel het om vir hom plek by ‘n skool in die omgewing te kry.

Leezadewin laat sy ma, sy ouma en oupa en klein sussie wat bykans twee is, na.

Sy roudiens vind vandag (Dinsdag, 23 Februarie) vanuit die Bikers Kerk plaas.

Me. Swarts en me. Coetzee het Laerskool Secunda, die mediese personeel van Langamed, die polisie en almal wat hulle ondersteun het of ‘n boodskap gestuur of geskakel het in dié moeilike tyd, bedank.

Related Articles

Back to top button