Rondloperdiere op Standerton ’n tameletjie vir inwoners en DBV

‘n Kalfie wat op Dinsdagoggend 16 Februarie raakgery is, se lyding is na 2nm beëindig. Die ongeluk het in Caledonstraat tussen Burger- en Handelstraat op Standerton gebeur. Die kalfie se gebulk in die Standerton Rivierpark, het mnr. Boet Smit genoop om die Standerton Advertiser in kennis te stel. Die koerant het ‘n teksboodskap op ‘n …

‘n Kalfie wat op Dinsdagoggend 16 Februarie raakgery is, se lyding is na 2nm beëindig.

Die ongeluk het in Caledonstraat tussen Burger- en Handelstraat op Standerton gebeur.

Die kalfie se gebulk in die Standerton Rivierpark, het mnr. Boet Smit genoop om die Standerton Advertiser in kennis te stel.

Die koerant het ‘n teksboodskap op ‘n WhatsApp-groep van Kasselman Veiligheidsdienste (KVD) geplaas, waarop dadelik reageer is.

‘n Ander inwoner, mnr. Christo Stoltz, het in ‘n ommesientjie hulp aangebied.

Die DBV op Secunda is geskakel om die korrekte prosedure te bekom omdat die geriewe in die industriële gebied in Factorystraat op Standerton sy deure toegemaak het.

Daar is aangedui dat dit in orde sou wees as iemand bystand sou verleen.

By die park het ‘n paar inwoners en KVD net na 1nm gereedgestaan.

‘n Oproep is ontvang dat daar wel inspekteurs van die DBV op Standerton was, wat kort daarna opgedaag het.

Insp. Anita Engelbrecht het aanbeveel dat ‘n tou om die dier se nek gegooi word, hy bewusteloos met ‘n ‘captive bolt’ gemaak en die keel afgesny word sodat hy kon uitbloei.

Sy sou egter hulp benodig om die dier vas te keer.

“Ons gaan probeer om hom uit sy lyding te verlos,” het me. Engelbrecht gesê.

Dit was makliker gesê as gedaan.

Die kalfie was teen dié tyd onder ‘n boom met ‘n koei wat nadergekom het.

Die ander inspekteur, mnr. Matume Simenya, het met die hulp van KVD die eienaar van die kudde probeer opspoor.

‘n Brandmerk sou as eienaarskap dien.

Die kalfie se ouderdom is tussen agt tot nege maande geskat en sy regterbeen was morsaf, wat hom nie gekeer het om op die vlug te slaan nie.

Een man het voor 2nm na die kalfie kom kyk en bevestig dat dit nie sy eiendom was nie.

Hy het wel gesê dat hy weet wie die regte eienaar is en gaan probeer om hom op te spoor.

Insp. Simenya het die opmerking gemaak dat in gevalle van ongelukke, die eienaars nie na vore kom juis om aanspreeklikheid te vermy.

Een man het terstond die telefoon in die inspekteur se oor neergesit.

Die konsensus op daardie stadium was dat die dier uitgesit sou word as die eienaar nie gevind kan word nie.

Die agtergrond oor die sluiting van die DBV-kantore op die dorp en die diere wat die strate invaar, op soek na kos, is moontlik gewens.

Nie alleen herkou diere aan stukke plastiek uit swart vullissakke nie, maar sekere strate is die volgende oggend ‘n toonbeeld van vullisraping.

Dit gebeur nie net naby die rivierpark nie, maar ook in Kosmos- en Florapark waar eienaars hul kuddes loslaat.

Boodskappe op sosiale media weerspieël kort-kort loslopende diere oor besige strate.

Die kwessie van rondloperbeeste het ook die aandag getrek toe mnr. Trevor Ras (Franco) in 2018 met sy lewe geboet het.

Mnr. Ras het ernstige beserings in ‘n ongeluk op die Secunda-pad opgedoen nadat sy voertuig met ‘n losloperdier en ander motoris in ‘n botsing betrokkke was.

Mnr. Alberto Franco het toe verwys na die afwesigheid van skut van rondloperdiere in woongebiede.

Die skutooreenkoms tussen die DBV en die Lekwa Munisipaliteit is nooit hernu nie.

Die Standerton Advertiser het na ‘n oproep Dinsdagaand 16 Februarie, ‘n e-pos op Woensdag na insp. Engelbrecht gestuur, waarin pertinente vrae gevra is.

Nasionale insp. Engelbrecht het op 18 Februarie terugvoering gegee.

Sy het gesê dat elke geval op meriete hanteer word en indien daar ‘n operasionele DBV in die omgewing is. hulle uitgestuur word.

In ag genome dat die nasionale DBV in die omgewing was en geen operasionele DBV op Standerton nie, is dadelik gehoor gegee.

Die kalfie is tussen 2nm en 2.20nm uitgesit.

“Indien ons vroeër geweet het, sou die dier ‘n korter periode gely het,” het sy ook gesê.

Wat betref hulle oorwegings, het sy aangedui dat die soort besering en graad van besering, oor die algemeen, in ag geneem word.

Exit mobile version