Local newsNews

Dieselwerktuigkundige van Standerton se been word geamputeer na aanvanklike knie-infeksie

’n Verpleegster het haar meegedeel dat hy na Witbank Hospitaal oorgeplaas gaan word omdat dit lyk asof sy been ‘afgesit’ gaan word.

‘n Dieselwerktuigkundige van Standerton wat sy werk verloor het en op die koop toe sy regterbeen, sterk tans weer aan in die Standerton Hospitaal.

Me. Adéle Hattingh, sy metgesel die afgelope 19-jaar, het die Standerton Advertiser op Donderdag 11 Februarie besoek en die relaas van die gebeure vertel.

Mnr. Callie Smit (58) was die broodwinner en het ‘n beroerte in Augustus gehad.

Sy regterknie se swelling het verskeie besoeke aan plaaslike dokters genoop om die vog op die knie en infeksie te beheer.

Hy is uiteindelik na die Standerton Hospitaal verwys nadat ‘n diagnose van septesemie gemaak is.

‘n Plan is beraam om geld in die hande vir ‘n operasie te kry omdat Callie geen mediese fonds-voordele het nie.

“Die wond het egter nie beter geword nie,” het Adéle gesê.

Callie was lank in die hospitaal en kon nie gaan werk nie.

Doktersbesoeke was sy voorland totdat ‘n suigverband (vacuum dressing) voorgestel is, wat die wond skoonmaak, en by Mar-peh-Medicare bekom is.

“Ons het net die onkoste van die koerier vanaf Vereeniging gedra,” het Adéle ook gesê.

“Daar was op daardie stadium geen fout met sy voet of tone nie.”

Callie het egter langdurige pyn beleef en tydens een doktersbesoek het hy ‘n inspuiting gekry, voordat hy inmekaar gesak het.

Die praktisyns het aanbeveel dat bloedtoetse gedoen word en dat hy drie eenhede bloed moet kry.

Adéle het gewapen met die doktersbrief waarop aangedui is dat hy bloed moes kry en direk na saal 3 vir opname moes gaan, met Callie in ‘n rolstoel vertrek.

Hulle is by die hospitaal verduidelik dat hy eers na ongevalle toe moes gaan.

Mnr. Callie Smit van Standerton se been is onlangs in die Witbank Hospitaal geamputeer. (Foto: Verskaf)

“Callie het al hoe bleker geword. Die rolstoel het nie ‘n voetstuk gehad nie met die gevolg dat sy voete vasgehou moes word.”

By ongevalle waar ‘n lang ry pasiënte gewag het, kon Adéle uiteindelik reël dat hy op ‘n bed gesit word.

“Die dokter aan die diens se bevinding was dat sy suiker hoog was en bloeddruk laag.”

Callie is op ‘n drup gesit en Adéle is huis toe om vir hom klere en kussings te kry.

Hy was vanaf die Donderdag tot die daaropvolgende Woensdag in die hospitaal voordat sy ‘n oproep van die verpleegpersoneel gekry het.

‘n Verpleegster het haar meegedeel dat hy na Witbank Hospitaal oorgeplaas gaan word omdat dit lyk asof sy been ‘afgesit’ gaan word.

Callie het wel vroeër gebel en gesê dat sy been nog steeds pyn.

Adéle het op die dag van sy vertrek by sy hospitaalbed gewag om die bakkies vir die ‘vacuum dressing’ saam te gee op die ambulans.

“Ek kon nie glo wat ek sien toe hy terugkeer van die x-strale-afdeling nie.

“Sy regterbeen was pikswart en wurms het uit wonde op die been gepeul.

“Die vlieë het begin eiers lê en sy beenverbande is in ‘n week nie omgeruil nie.”

Volgens Adéle was die reaksie van verpleegpersoneel bloot dat hy nie opgeneem is om sy been te versorg nie.

“Die bedlinne is wel met ‘liners’ beskerm.”

Op haar aandrang, het ‘n verpleër daarna die wond skoongemaak en volgens Adéle, is daar nie sagkens met hom gewerk nie.

Daar was gangreen in die been.

Callie se been is op 4 Februarie op Witbank geamputeer en hy is terug in die Standerton Hospitaal.

Adéle weet nie tot wanneer dit sal wees nie en hy kry tans fisioterapie.

Sy het inmidddels ‘n klagtevorm ingevul en ‘n verslag by die matrone ingegee.

‘n Prokureur is ook genader om die saak te hanteer.

Hoewel werkloosheidsvoorsiening-fondsvorms ingevul is, het Callie geen pensioenvoordele nie.

Die eienaar van hul huurhuis het hul in kennis gestel dat 28 Februarie die datum vir ontruiming sal wees weens twee maande se agterstallige huurgeld.

Die elektristeits- en watervoorsiening kan moontlik ook afgesny word.

Enigeen wat ‘n bydrae wil maak, kan ‘n TymeBank-deposito in rekeningnommer 51028564026 (takkode 678910) doen.

Die Standerton Advertiser het op Vrydag 12 Februarie om 8.07vm ‘n e-pos na die die hoofuitvoerendebeampte van die hospitaal, mnr. Nhlanhla Dladla, gestuur waarin kommentaar oor die aangeleentheid versoek is.

Geen terugvoering is teen druktyd ontvang nie.

Related Articles

Back to top button