Ouetehuis-direksie op Standerton rig hul oë op die toekoms

Die direksie bestaan uit die voorsitter, mnr. Fanie Potgieter, mnre. Rudi van Rensburg, Hennie Pretorius, Ferdi Weyers, Ed Coulson, asook me. Linda van Aswegen en dr. Molly Lyons.

Die nuwe direksie van Kosmos Aftree-oord wat verteenwoordigend is van die gemeenskap, die sorgsentrum, lewensreghouers en ander inwoners, gaan hul toespits om toekomsgerig te wees.

Die direksie bestaan uit die voorsitter, mnr. Fanie Potgieter, mnre. Rudi van Rensburg, Hennie Pretorius, Ferdi Weyers en Ed Coulson, asook me. Linda van Aswegen en dr. Molly Lyons.

“Sedert die totstandkoming van die direksie, het verskeie verblydende verwikkelinge plaasgevind,” het mnr. Jack la Grange, bestuurder, gesê.

“Een is die skepping van ‘n finansiële komitee, wat in diepte die finansies van die oord ondersoek en deurlopend daaroor verslag doen.

“‘n Ander is kundige mense op hul onderskeie gebiede, wat genader kan word om die tehuis by te staan, met sake waar daar nie voldoende kundigheid is nie.”

Volgens mnr. La Grange, het die groot onderbreking van normale besigheid weens Covid-19, vele projekte en baie beplande werk in die wiele gery.

“Daar is nou daadwerklik besluit om die agterstand in te haal deur alle beleid en prosedures te ondersoek en, waar nodig, te hersien of by die nuwe werklikheid aan te pas en dan vir die toekoms te dokumenteer,” het hy ook gesê.

Dié sake sluit in al die grondslagreëls vir inwoning, vordering van heffings, aanstelling van personeel en vergoeding, sowel as die koop en verkoop van lewensreg.

“Ons sal geen steen onaangeroer laat om die instelling deursigtig en in belang van die inwoners en gemeenskap te bestuur nie.”

Hy het bygevoeg dat deursigtigheid voorop gestel word juis omdat die ouetehuis afhanklik is van die gemeenskap se ondersteuning.

Die tehuis laat geen besoekers in hierdie stadium toe nie om aan Covid-19 regulasies te voldoen.

“Dit is ‘n baie delikate saak omdat ons aan die wet onderworpe is, maar ons wil ook, in empatie met inwoners en pasiënte, graag die familiebande behou.

“Die sorgsentrum veral, is baie kwesbaar.

“Dit is die pasiënte se permanente woning en dit is bykans onmoontlik om aan ‘n pasiënt te verduidelik hoekom ‘n kind of kleinkind nie mag inkom nie.

“Streng protokolle word gevolg om ‘n herhaling van die voorvalle van verlede jaar te verhoed.”

Hy het ook gesê dat die tweede golf van die koronavirus hul tot dusver nie aangeraak nie, en dat gehoop en gebid word dat hul dié beker, hierdie keer, gespaar sal bly.

Bestuur het veral die families, wat hul standpunt met begrip oorweeg en steun, bedank.

Exit mobile version