Teagan van Wyk (4) van Ermelo veg braaf teen seldsame kinderkanker

Teagan se toestand plaas ook enorme druk op die normale funksionering van die Van Wyk-huishouding en me. Van Wyk het genoem dat haar seun (21) en dogter (15) albei berading by die kerk ontvang.

Die familie van Teagan van Wyk, ‘n vierjarige van Ermelo wat onlangs herstel het nadat hy in Oktober 2018 met ‘n seldsame kinderkanker gediagnoseer is, het onlangs die vernietigende nuus gekry dat ‘n nuwe kankergewas gevorm het.

Die gesin, oorspronklik van Pretoria-Noord, het na Ermelo verhuis nadat me. Van Wyk se man en oudste seun hul werk weens Covid-19 verloor het.

Haar man het egter werk op die myn gekry en vir die gesin het dit ‘n nuwe begin beteken siende Teagan in Julie vanjaar, die nuus ontvang het dat die kanker opgeklaar het.

Weens die behandeling wat Teagan in November 2018 ontvang het, het die gewas verklein en kon dit suksesvol verwyder word.

Me. Van Wyk het egter later tydens tuisonderrig met Teagan opgemerk dat hy vreemde simptome toon.

Sy het ‘n video-opname daarvan gemaak en aanvanklik vermoed dat dit onttrekkingsimptome was omdat hy opgehou het om sy medikasie te gebruik, maar die dokters het hul aangeraai om op iets erger voor te berei.

‘n Nuwe gewas het gevorm en me. Van Wyk moet nou noodgedwonge gereeld tussen Ermelo en Pretoria pendel vir sy behandeling. 

Vierjarige Teagan van Wyk moet tans chemobehandeling kry vir ’n seldsame kinderkanker waarmee hy gediagnoseer is. (Foto: Verskaf)

Al die nuwe skanderings, beenmurg- en bloedtoetse is in November afgehandel en ‘n biopsie was buite die kwessie.

Volgens kidshealth.org, word ‘n soliede gewas (‘n knop of massa wat veroorsaak word deur ongekontroleerde of abnormale selgroei) by dié seldsme siekte gevorm deur spesiale senuweeselle genaamd neuroblaste.

Normaalweg groei hierdie onvolwasse selle tot funksionerende senuweeselle, maar in neuroblastoom word dit kankerselle.

Simptome is onder andere maagpyn, veranderinge in die dermbeweging, pyn op die bors, weefselknoppe onder die vel, rugpyn, gewigsverlies en donker kringe soos kneusplekke onder die oë.

Die grootste uitdagings vir die gesin is tans geld vir Teagan se medisyne wat sy van tyd tot tyd by die apteek moet aankoop, etes vir me. Van Wyk as sy elke keer vir drie weke saam met Teagan in die hospitaal moet deurbring asook brandstof- en tolhekgeld.

Teagan se toestand plaas ook enorme druk op die normale funksionering van die Van Wyk-huishouding en me. Van Wyk het genoem dat haar seun (21) en dogter (15) albei berading by die kerk ontvang.

Sy het gesê dat Teagan nou sy chemosessies moet voltooi, waarna die dokters weer skanderings sal uitvoer om te kyk of die chemo wel geslaagd was.

Op die vraag oor wat haar Kerswens is, het sy gesê dat ‘n Kersfees saam met haar gesin by die huis, die heel grootste geskenk ooit sal wees.

Enigeen wat Teagan en sy gesin wil help, kan sy Facebook-bladsy Teagan Van Wyk – Little Superman – www.facebook.com/SupermanTeagan besoek.

Lees die volledige berig in die Hoëvelder Koerant.

Exit mobile version